Soorte resepte:

Sakpas-breinkos vir kinders  

 Kinders_gesonde-kos.jpg

Foto: dyspraxia.ie

[promosie-artikel]

Danielle Barfoot

Kinders kan vol fiemies wees wanneer dit by kos kom. Party wil net een soort kos eet en ander probeer nie sommer enigiets nuuts nie, terwyl ander bloot weier om kos van ’n spesifieke kleur te eet. Dan is daar dié wat net nie sonder suikerbelaaide lekkernye kan klaarkom nie.

Maar goeie voeding is noodsaaklik om te verseker dat kinders ’n gesonde lengte en gewig bereik. Boonop gee goeie voeding die brein ’n hupstoot, dit versterk die geheue en dit verbeter konsentrasie.

Met baie gesinne wie se beursies platter is as gevolg van stygende kospryse, voel dit dalk of dit onmoontlik is om gesonde en voedingryke etes voor te berei, maar dit is nie! Hier is ’n lys van sakpas-breinkos vir kinders (waarby die res van die gesin ook sal baat):

  • Graan: Die brein benodig ’n konstante bron van brandstof in die vorm van glukose om te funksioneer. Volgraankos soos brood en pasta is ’n bron van glukose wat help om jou kind se bloedsuikervlakke te reguleer. Dit bevat ook vesel, wat help om jou kind vir langer versadig te laat voel.

Bedien hawermout (nie die kits-hawermout nie) met opgesnyde vrugte vir ’n gesonde ontbyt.    

  • Groente: Groete is propvol vitamiene, minerale en anti-oksidante en help met breinfunksie en verstandelike vermoëns. Met vars groente wat by die dag duurder word, kan jy gerus bevrore groente koop. Dit is kostedoeltreffend en net so voedsaam.

Voeg bevrore groente by jou kind se gunsteling-pastagereg.

  • Vrugte: Vars vrugte is noodsaaklik vir ’n gesonde liggaam en brein. Vrugte soos appels, piesangs en lemoene is propvol vitamiene en anti-oksidante wat hartgesondheid bevorder, die risiko vir kanker verlaag en wat breinfunksie verbeter. Dié basiese vrugtesoorte is ook goedkoper as eksotiese of ingevoerde variëteite.

Pak ’n vrug in jou kind se kosblik.

  • Eiers: Om genoegsame proteïen in te neem beteken nie noodwendig dat jy duur vleis moet eet nie. Eiers is ’n goeie bron van proteïen en bevat ook cholien, ’n belangrike voedingstof vir brein- en geheue-ontwikkeling. Dit is ook veelsydig – jy kan eiers vir ontbyt, middag- of aandete geniet.

Maak Franse roosterbrood met volgraanbrood.

  • Vis: Olierige vis, soos sardientjies, bevat omega-3-vetsure wat noodsaaklik is vir normale kognitiewe uitvoering, brein- en oogontwikkeling en ʼn gesonde hart.

Gebruik sardientjies om viskoekies mee te maak.

  • Suiwel: Melk, jogurt en kaas is goeie bronne van proteïen en bevat ook vitamien D en B-vitamiene, wat noodsaaklik is vir gesonde breinfunksie.

Meng vrugte saam met melk of jogurt vir ’n heerlike (en vullende) vrugteskommel.

  • Water: Water is noodsaaklik vir jou kind se gesondheid. Ontwatering kan hoofpyne en uitputting veroorsaak en kan jou kind se vermoë om te konsentreer beïnvloed.

Maak ’n beker vol water en voeg ’n paar lemoenskyfies by. Bêre dit in die yskas waar jou kind dit maklik kan bykom.

Eintlik gee kinders nie om of dit wat hulle eet gesond is nie, hulle wil net weet of dit lekker gaan smaak. Raak kreatief! Voedsame – en smaaklike – etes sal meer doen as om net jou kind se honger te stil. Dit sal sy energie stabiliseer, sy brein verskerp, en vir hom die beste geleentheid bied om sy volle potensiaal te bereik.

Artikel verskaf deur Impak Onderwys

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.