Soorte resepte:

Sakpasresep: Tannie Babs se gekookte poeding

 Gekook_stoof_pot_roer_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Dié week se sakpasresep is ingestuur deur Ina van Rensburg en lê haar baie na aan die hart. Sy het die resep reeds in 1963 by haar tannie Babs Muller gekry. Tannie Babs is intussen oorlede – nie net die herinnering aan haar nie maar ook haar heerlike resep leef voort.

Dit is ʼn heerlike ekonomiese poeding omdat geen eiers gebruik word nie. Wat die nagereg so uitsonderlik maak, is dat dit selfs op ʼn kampvuur in die buitelug gemaak kan word.

Ongeveer 6 mense kan hiervan eet.

Bestanddele

Stroop

  • 2 k suiker (indien te soet na smaak, kan die suiker verminder word na 1½ k)
  • 4 k water
  • 1 t kaneel (gemmer en/of neutmuskaat kan ook bygevoeg word)

Metode

Bring alles tot kookpunt in ʼn middelmatige kastrol.

Beslag

  • ½ k margarien of botter
  • 2 k koekmeel
  • knippie sout
  • 1 k appelkooskonfyt
  • 1 t koeksoda
  • 1 k melk

Metode

  1. Meng die margarien, meel en sout saam.
  2. Voeg die konfyt en koeksoda saam en meng.
  3. Voeg die meelmengsel, konfytmengsel en melk saam. Meng goed saam.
  4. Skep nou die beslag in die kastrol met die warm stroop. Sit die deksel op en prut stadig vir ongeveer 1 uur.
  5. Skep in bakkies en dien op.

Die nagereg is heerlik saam met vla of net so lekker in sy eie stroop.

Wenk van die week: Stel ʼn inkopielys op voordat jy gaan inkopies doen en moenie ekstra items koop nie.

Het jy ʼn lekker sakpasresep?

Stuur gerus jou resep vir ons en as Maroela jou resep publiseer, ontvang jy ʼn lekker geskenkpakkie!


Stophonger-logo.jpgHet jy geweet? Meer as 40% van die kleuterskole wat deel uitgemaak het van die navorsing, kan nie bekostig om meer as een maaltyd te bied nie.*

Wil jy tot Helpende Hand se #StopHonger-veldtog bydra om die nood van behoeftige kleuters* te verlig?

SMS die woord STOP na 38969 (SMS kos R10) en dra by tot ʼn kosblikkie vir ʼn behoeftige kleuter of besoek hul webtuiste.

*Bron: Helpende Hand Hongersnoodverslag, Aug18

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.