Soorte resepte:

[Resep] Lensie-en-kruieslaai met tamatie

Lensie-en-kruieslaai met tamatie. (Foto: Verskaf)

Dis eksamentyd en soms vra dit baie motivering vir die kinders om by hul boeke te bly. As daar ʼn lekker peuselhappie beskikbaar is, kan dit dalk help. Maak hierdie maklike appelballetjies vir jou kinders om aan te smul. Dis ʼn aansienlik beter opsie as lekkergoed of sjokolade, want te veel suiker is beslis nie ideaal in die eksamentyd nie. Die eenvoudige kombinasie van neute, vars appel, speserye en sade is blitsvinnig om te maak.

Die lensieslaai is ʼn lekker alternatief vir ʼn stysel en perfek met ʼn braaivleis-ete oor die naweek of as bygereg met enige ander vleis, soos geroosterde hoender. Stysels soos rys, pasta of aartappels het dikwels ʼn baie hoë koolhidraatinhoud, sonder dat daar baie ander voedingswaarde in die gereg is nie. Vars bestanddele soos tamatie en komkommer met vars kruie is genoeg om dit interessant te maak.

Resep aangepas uit Cooking from the heart 3

Lewer 6 porsies

Bestanddele:

  • 1 k (250 ml) rou bruin lensies
  • ½ t (2,5 ml) sout
  • 1 takkie vars roosmaryn of lourierblaar
  • 1 e (15 ml) gedroogde gemengde kruie
  • 1 knoffelhuisie, heel
  • 2 t (10 ml) olyf- of avokado-olie
  • 3 ryp tamaties, in blokkies gesny
  • 3 e (45 ml) gekapte vars pietersielie
  • 3 e (45 ml) gekapte vars origanum of meer pietersielie
  • suurlemoensap en swartpeper na smaak
  • ½ komkommer, in blokkies gesny
  • ⅔ k (160 ml) bevrore ertjies, afgespoel

Metode:

  1. Plaas lensies, sout, roosmaryn, gedroogde kruie en knoffel in ʼn kastrol met 2½ k (625 ml) water. (ʼn AMC 20 cm Low is ideaal.)
  2. Bring oor matige hitte tot kookpunt, verlaag die hitte en prut met ʼn deksel vir 30 minute of tot die lensies net sag is. Dreineer deeglik.
  3. Verhit olie in ʼn braaipan (AMC 24 cm Chef’s Pan werk uitstekend) en soteer tamaties tot net sag. Roer dit met die vars kruie by die lensies.
  4. Geur na smaak met suurlemoensap en peper. Laat afkoel en roer komkommer en ertjies by. Sit as ʼn slaai of bygereg met ʼn vleisgereg van jou keuse voor.

Pink Lady®-appelballetjies

Lewer ongeveer 18-20 balletjies.

Bestanddele:

  • 60 g (125 ml) gekapte rou makadamia-neute
  • 75 g (125 ml) gekapte rou amandels
  • 2 Pink Lady®-appels, met die skil aan grof gerasper
  • 3 e (45 ml) lynsaad
  • 2 k (500 ml) rou gerolde hawermout
  • 1 t (5 ml) gemaalde gemengde speserye
  • ⅓ k (80 ml) gedroogde rooi bosbessies of rosyntjies
  • 1 t (5 ml) vanieljegeursel

Metode

  1. Meng die twee soorte neute saam in ʼn voedselverwerker tot dit amper soos ʼn neutbotter lyk.
  2. Voeg die appel en die res van die bestanddele by die neutmengsel en meng tot dit amper soos koekiedeeg lyk.
  3. Rol eetlepelsvol van die mengsel in balletjies en pak in ʼn lugdigte houer. Bêre in die yskas vir 3-5 dae.

Kyk elke Maandagoggend na #Kosblik op Die Groot Ontbyt of besoek Heleen Meyer se webwerf of Facebook-blad vir nog maklike en gesonde kosblik-idees.

Koop Heleen Meyer se resepteboek Maak Vyf  in Die Koöperasie, Maroela Media se aanlynwinkel. Dit bevat eenvoudige en maklike resepte van bekende bestanddele wat elk op vyf verskillende maniere gebruik word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.