Soorte resepte:

[Resep] Maalvleis-en-eierbakkies

Foto: Verskaf

Dié maalvleisbakkies is iets waarvoor my kinders baie lief is. Dis ’n basiese Italiaanse maalvleismengsel wat met geklitste eier gemeng en in kleiner porsies gebak word. Ek maak sommer ’n groot mengsel van die maalvleis en gebruik dit vir aandete. Terwyl ons aan tafel is, bak ’n ander gedeelte as dié bakkies vir kosblikke en die res van die maalvleis vries ek vir ’n volgende ete – sommer ’n paar goed in een skoot uitgesorteer.

In die winter is mens nie altyd lus vir ’n slaai nie, maar om seker te maak dat daar steeds genoeg vars produkte deel is in die week se etes, is ’n eenvoudige kombinasie van seisoenale bestanddele perfek. Probeer gerus hierdie verfrissende winterslaai met appel, komkommer, fetakaas en kruisement. Koljanderblare is ook nou beskikbaar en heerlik saam met appel. Selfs avokado kan deel wees van hierdie slaai.

Resep aangepas uit Cooking from the Heart 1

Lewer 20 – 24 bakkies

Bestanddele:

  • 15 ml (1 e) olyf- of avokado-olie
  • 500 g maer maalvleis
  • 1 ui, gekap
  • 1 selderystingel met die blare, gekap
  • 2 knoffelhuisies, gekneus
  • 2 wortels, gerasper
  • 10 ml (2 t) elk gedroogde tiemie en gemengde kruie
  • 1 x 410 g-blik gekapte tamaties
  • 15 ml (1 e) tamatiepasta
  • 2,5 ml (½ t) sout
  • suurlemoensap en swartpeper na smaak
  • 6 of 7 Nulaid jumbo-eiers, geklits

Metode:

  1. Verhit helfte van die olie in ’n groot braaipan (’n AMC 28 Chef’s Pan werk goed) en braai maalvleis tot verbruin. Skep uit en hou eenkant.
  2. Verhit die orige olie in dieselde pan en braai ui, seldery en knoffel vir ’n paar minute.
  3. Roer wortels, kruie, tamaties, tamatiepasta en sout met die maalvleis by. Verlaag die hitte, plaas die deksel op en prut vir 30-45 minute tot die maalvleismengsel gaar is. Die sous behoort ook te begin verdik want die mengsel moenie te waterig wees nie.
  4. Geur na smaak met suurlemoensap en peper. Laat heeltemal afkoel.
  5. Voorverhit oond tot 180 °C en smeer twee muffinpanne liggies met olie.
  6. Roer eiers baie goed deur die maalvleismengsel en skep in muffinpanne. Bak 20-25 minute of tot gaar en gestol.
  7. Laat ’n paar minute afkoel en skep versigtig uit. Laat afkoel en hou in die yskas tot dit in die kosblikke gepak gaan word.

Wenk

  1. As jy nie jumbo-eiers het nie, kan enige ander grootte werk, pas net die aantal eiers dienooreenkomstig aan. Gebruik bv 7 ektra-groot of 8 groot eiers.

 

Pink Lady®-appelslaai met komkommer en feta

Lewer 4 porsies

Bestanddele:

  • ¼-½ komkommer, in blokkies gesny
  • 1 skyf fetakaas, in blokkies gesny
  • 2-3 Pink Lady®-appels met die skil, in blokkies gesny
  • ʼn groot handvol geroosterde sonneblomsaad
  • handvol kruisementblare
  • olyfolie om oor te giet

Metode:

  • Meng al die bestanddele saam en skink ’n bietjie olyfolie oor.
  • Sit voor as ’n bygereg of pak ’n porsie in ’n kosblik.

Kyk Maandae oggende na #Kosblik op Die Groot Ontbyt, kykNet kanaal 144 vir nog lekker maklike en gesonde resepte. Volg Heleen op Facebook www.facebook.com/HeleenMeyerFood om die skakel na elke week se resepte te kry en besoek gerus haar splinternuwe webwerf, www.heleenmeyer.co.za vir nog smullekker idees. Haar resepteboek, Maak vyf is ook in Maroela se e-winkel https://maroelawinkel.co.za/ beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.