Soorte resepte:

Soektog vir SA se beste boerewors begin weer

Argieffoto

Die landwye soektog vir Suid-Afrika se beste boereworsresep het amptelik afgeskop in die jaarlikse Championship Boerewors-kompetisie met die wenner wat in Augustus vanjaar aangekondig sal word.

Shoprite en Checkers het jaarliks ʼn kompetisie om Suid-Afrika se beste boereworsmaker te vind – iemand met ʼn uitstaande resep vir tradisionele boerewors en met die vaardighede om dit van niks af aan mekaar te slaan.

Die boereworskampioen van 2018, Yvonne Blaauw, het vanjaar se deelnemers aangemoedig om tyd af te staan om hul resepte te verfyn.

“Dit het my 15 jaar geneem om my resep perfek te kry, met behulp van my vriende en familie se waardevolle terugvoer. Om te weet dat mý boerewors die beste in die land is, is onbeskryflik,” het sy gesê.

Yvonne Blaauw (Foto: Luigi Bennett Photography)

Die beoordelingspaneel sal eerstens seker maak al die inskrywings strook met Suid-Afrika se wet oor wat as tradisionele boerewors geklassifiseer kan word.

Tradisionele boerewors moet uit minstens 90% vleis bestaan. Dit moet altyd beesvleis bevat, met óf lamsvleis óf varkvleis óf ʼn mengsel van die twee daarby. Die vetinhoud van die vleismengsel mag nie meer as 30% wees nie.

Resepte mag onder meer nie spek, blatjang, kaas, peri-peri, kerrie, tamatiesous, Peppadews, groen soetrissie, paprika, suurlemoen, mosterd, knoffel, gemmer, kaneel of heel peperkorrels bevat nie.

Bykomende bestanddele wat wel toegelaat word, is onder meer koljander, naeltjies, neutmuskaat, swart peper, asyn, water en Worcestersous.

Die paneel sal hul top-30 resepte uit die kwalifiserende inskrywings kies, vandaar sal ʼn siftingsproses plaasvind en op 28 Augustus 2019 sal die finaliste hul vernuf moet wys voordat ʼn wenner gekies sal word. Teen 13 September sal die wennerboerewors in winkels te koop wees.

Afgesien van die titel van boereworskampioen vir 2019, sal die wenner ook pryse ontvang. Die kompetisie se borge is Coca-Cola, Wellington’s, Toyota en Sasko. Die wenner sal ook met ʼn Toyota Fortuner 2.4 GD-6 4×4 6AT ter waarde van meer as R500 000 wegry.

Vir meer inligting of om in te skryf vir die kompetisie, besoek die webwerf hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Hendrik ferreira ·

Die beste wors wat ek al geëet het kom van ou plaas tannies iewers waar geen winkels of slaghuise naby is nie en hulle die resepte van geslag na geslag oordra.

willem Botha ·

Pat Smith van maders slaghuis maak by verre die beste boerewors wat ek al geproe het.

pan ·

Ek stem maders maak n puik boereworsie om op die kole te braai

Ellisras ·

Op Ellisras kan jy net by Bertie wors koop. Dit is bees wêreld en goeie wors is skaars.

Thys ·

Gaan probeer om ook by Northam draai te maak daar’s ‘n slaghuis in ‘n kompleks waar besighede is probeer hulle boerewors asook hulle koedoe kaaswors,nog ni slaghuise gekry wat dieselfde lekker boerewors verkoop ni

Eben P ·

Willem /pan praat met ons waar is Maders dat ons kan loop proe !! ????

willem Botha ·

Eben in Pretoria langs die wonderboom poort polisie stasie .

Carel ·

Min slagters kan deesdae hulle eie boerewors maak. Meeste nuwe manne vat net ‘n pakkie Freddy Hirsch of Crown National en volg die resep. Orals is net Ouma’s of Drakensberg.

Chris ·

Die kompetisie is interessant om te volg en die pryse vir die wenners is vir seker nie te versmaai nie. Die wors wat egter na afloop van die jaarlikse kompetisie in supermarkte as die wenner se resep aangebied is om die minste te se ‘n klap in die gesig vir die wenner. Smaakloos, vaal en oninteressant. Boerewors? Beste resep in SA?

Judge Dredd ·

Stem saam.
PnP se wors in algemeen is baie beter as Checkers sin.

ChrisE ·

Die smaak van boerewors is om iemand te vra beskryf ‘n mooi vroumens. Elke persoon het ‘n opinie. Ek kan die smaak onthou van die wors wat my ma altyd gemaak het. Die naaste wat ek daaraan gekry het was deur die slagter by Tierpoort slaghuis buite Pretoria gemaak. Hy het dit sout en peper wors genoem. My ma se resep het 60% bees en 40% vark vleis bevat. Sy het as ek reg onthou ook net sout en peper ingegooi. Die verskil was die gehalte vleis. Dorpsvleis se vet is wit. Plaasvleis is geel. Biltong kan dieselfde menings uitlok. Ek het ook eie resep. Ek is lekkerbekkig.

Ellisras ·

Dit is ons skuld dat goeie boerewors ‘n bedreigde spesie raak. Ek en jy. Ons koop mos almal ons vleis en veral wors by die groot ketting winkels. Daar maak ‘n WERKER die wors. In ‘n slaghuis is die EIENAAR betrokke. Die eienaar wat sy voortbestaan van sy trots op sy produk afhang. En ONS het die slaghuise een vir een toegemaak.

Koos ·

Robbie van Wildshoekie Vleismark, Derdepoort, Pretoria se Worcestersous wildswors, klop alle boerewors resepte loshande!!!

Cherokee ·

Die storie van 90% vleis en nie meer as 30% vet nie, is moeilik om te glo wanneer ek na die wors by PnP kyk. Dit is wit van die vet. Ek het vasgesteek by een produk en dit is Grabouw maar selfs diè het laaste van tyd meer vet in. Net anderkant die hawe is Bluff Meat Market en daar is ook goeie wors te koop. Grabouw is egter steeds al wat ons koop – daar moet koljander in wors wees.

willem botha ·

Julle polisie is miskien skerper as ons sin maar ons wors is by verre beter????????

Jaco ·

Kempton Super Meats se traditioneel en suidwes wors is tops!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.