Soorte resepte:

Karringmelkpoeding met karamelsous

Baie maklik om te maak en baie lekker, skryf Marie Nortjé van Mosselbaai. ‘n Karamelsous, sommer met roomkaramellekkers gemaak, smaak heerlik hierby.

Poeding:
90 g (100 ml) botter
160 g (200 ml) suiker
2 ekstragroot eiers
140 g (250 ml) bruismeel
1 ml (¼ t) sout
250 ml (1 k) melk
500 ml (2 k) karringmelk

Karamelsous:
2 pakkies (69 g elk) roomkaramellekkers
125 ml (½ k) melk
5 ml (1 t) vanieljegeursel

Metode:
Spuit ‘n 22 cm-glasbak met kleefwerende middel.
Klits die botter en suiker tot lig en romerig.
Voeg die eiers een vir een by en klits goed na elke byvoeging.
Sif die bruismeel en sout saam. Meng ook die melk en karringmelk.
Vou die droë bestanddele beurtelings met die melkmengsel by die bottermengsel in.
Skep in die voorbereide bak.
Plaas die bak op ‘n omgekeerde piering en mikrogolf 15 minute lank by medium of 50 persent krag.
Laat 10 minute lank staan om styf te word.
Plaas al die bestanddele vir die sous in ‘n ander mikrogolfvaste bak.
Mikrogolf 2 minute lank by 100 persent krag. Roer goed.

Dien op saam met karringmelkpoeding.
Getoets in ‘n 600-watt oond.
Genoeg vir 6 mense.

Hierdie resep is oorspronklik in Huisgenoot Wenresepte 6 (deur Carmen Niehaus) gepubliseer.
Uitgewers: Human & Rousseau, 1996

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.