Soorte resepte:

Resep: Gebakte heuningvla

Gebakte heuningvla (Foto: lapa-uitgewers)

Sag, soet en romerig – net soos ʼn poeding moet wees!

Lewer 6 porsies

Bestanddele

  • 1 ½ k (375 ml) Clover The One- laevetmelk
  • ½ k (125 ml) Clover-room
  • ¼ k (55 g) strooisuiker
  • 1 lourierblaar
  • ¼ t (1 ml) neutmuskaat
  • 3 eiers
  • 1 eiergeel
  • 1 t ( 5 ml) vanieljegeursel
  • ⅓ k (90 ml) heuning

Metode

  1. Voorverhit die oond tot 170 °C. Meng die melk, room, suiker, lourierblaar en neutmuskaat en verhit oor lae hitte. Roer gedurig tot die suiker opgelos het.
  2. Verhoog die hitte en verhit tot net onder kookpunt. Klits die eiers, eiergeel en vanieljegeursel in ʼn mengbak. Voeg die warm melkmengsel by die eiermengsel en roer deeglik. Giet die vlamengsel deur ʼn sif in ’n maatbeker.
  3. Verdeel die vlamengsel eweredig tussen ses 125 ml-oondvaste bakkies.
  4. Rangskik die bakkies in ʼn oondpan wat halfvol water is en strooi ʼn klein bietjie neutmuskaat oor die vla.
  5. Bak vir 20 tot 30 minute of tot die buiterande gestol is, maar die middel nog sag is.
  6. Verwyder uit die oond en bedruip elke bakkie vla met 15 ml heuning. Plaas vir 2 tot 3 minute onder die oondrooster tot die heuning ʼn diep goue kleur het. Laat vir 5 minute rus voor opdiening of verkoel heeltemal en sit koud voor.

Bron: Gunsteling Poedings

Uitgewer: Lapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.