Soorte resepte:

Resep: Gesoute karameltertjies

Foto: Clover gunsteling poedings

Foto: Clover gunsteling poedings

8 porsies

Bestanddele:

Sjokoladedeeg

  • 1 k (140 g) koekmeel
  • ⅓ k (50 g) versiersuiker
  • ¼ k (35 g) kakaopoeier
  • ⅔ k (150 g) koue Clover Mooi River-botter, in blokkies gesny
  • 1 eiergeel

Vulsel

  • I blik (385 g) Clover-kondensmelk
  • ½ t (3 ml) soutvlokkies, fyngedruk
  • 200 g donkersjokolade, grofgekap
  • ⅔ k (160 ml) Clover-room
  • ¼ k (60 ml) Clover-volroommelk
  • 2 eiers, geklits

Versiersel

  • 100 g witsjokolade, gesmelt

 Metode:

Sjokoladedeeg

  1. Voorverhit die oond tot 200 °C. Smeer agt 8 tot 10 cm-losboom-tertpannetjies.
  2. Meng die meel, suiker en kakao in ’n bak. Vryf die botter deeglik met die vingerpunte in tot die mengsel soos broodkrummels Iyk.
  3. Voeg die eiergeel by en meng liggies tot dit ’n deeg vorm. Vorm die deeg in ’n bal, bedek met kleefplastiek en verkoel vir minstens 30 minute.
  4. Verdeel die deeg in 8 porsies. Voer die agt gesmeerde tertpannetjies met die deeg uit. Verkoel vir 15 minute en bak blind. Laat eenkant rus om af te koel.

Vulsel

  1. Voorverhit die oond tot 150 °C.
  2. Verwyder die kondensmelkblik se etiket en maak twee klein gaatjies aan die bokant van die blik. Plaas die blik met die gaatjies na bo in ’n kastrol.
  3. Vul die kastrol met koue water tot amper aan die blik se bopunt (± 1 cm van bo af). Laat die water kook, verlaag die hitte en prut vir 3 tot 3 en ’n ½ uur totdat karamel bo-op die blik vorm. Dis baie belangrik om die water dieselfde vlak te hou en dus aanhoudend aan te vul. Laat die blik heeltemal afkoel voor dit oopgemaak word.
  4. Skep die karamel in ’n bak en roer die fyngedrukte soutvlokkies deur.
  5. Verdeel die vulsel tussen die agt tertpannetjies. Hou byderhand.
  6. Plaas die sjokolade in ’n hittebestande bak oor ’n kastrol met pruttende water. Maak seker dat die onderkant van die bak nie aan die water raak nie.
  7. Roer liggies tot die sjokolade glad en gesmelt is.
  8. Laat vir 5 minute afkoel.
  9. Verhit die room en melk oor lae hitte tot net onder kookpunt. Verwyder van die hitte en roer die eiers by.
  10. Plaas die kastrol terug op die stoofplaat en prut liggies vir 4 tot 5 minute oor lae hitte. Giet die eiermengsel deur ’n sif en roer deur die gesmelte sjokolade.
  11. Giet die mengsel oor die karameltertjies en bak vir 7 tot 10 minute of tot net gestol.
  12. Laat die tertjies heeltemal afkoel.

Versiersel

  1.  Vul ’n versiersak met die gesmelte witsjokolade en spuit ʼn kronkelpatroon bo-op elke tertjie.

Bron: Clover Gunsteling Poedings
Uitgewer: Lapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Erika Venter ·

Baie dankie – dit lyk heerlik….maar dit help my niks nie! Ek sit by die werk en wil die resep by die huis uit probeer – ek het ongelukkig nie tyd by die werk om die resep af te skryf nie. Ek kan nie die resep “copy” en “paste” of op papier uitdruk nie. As ek die resep na myself per e-pos stuur ontvang ek nie die resep nie maar wel die “link” waar ek weer die resep kan kry ! Help asseblief – so gaan baie lekker resepte verlore!!

Sune van Heerden ·

Dagsê Erika

Dankie vir jou navraag!

Ons moes ongelukkig die funksie wat mens toelaat om teks op die webwerf te kopieer of dat iemand kan regsklik en dan die dokument te kan uitdruk, deaktiveer, aangesien sommige webwerwe ons inligting onregmatig gebruik het.

Maak gerus óf ʼn skermskoot óf klik regs bo op jou webblaaier (“browser”) op die knoppie wat soos drie horisontale lyntjies lyk (op Chrome en Firefox) of ʼn sirkelvormige ratjie (Internet Explorer). Dit maak verdere opsies oop en daar kan jy dan klik “print”. As jy nie ʼn drukker het nie, kan jy die dokument dalk in ʼn .pdf-formaat (elektronies) druk – dan kan jy makliker daarmee werk.

Ek hoop jy kuier nog sommer baie lekker verder op Maroela!
Groetnis
Suné
nms Maroela Media

ERIKA VENTER ·

Goeie dag

Baie dankie – ek het reggekom!

Lekker dag verder

Erika

Wilma Maia ·

Erika, by resep, in die regter bokantste hoek van jou skerm verskyn daar drie strepies ___ ondermekaar, links kliek daarop dan behoort jy “druk”-funksie te kry en resep uit te kan druk. Hoop jy kom reg want van die resepte is werklik onweerstaanbaar!! Lekker bak.

Erika Venter ·

Goeie dag Wilma,

Baie dankie vir jou hulp – ek het reggekom.

Lekker dag

Erika

Elfie ·

Nou-ja smaak verskil, maar ek sê soet moet SOET wees. BAIE soet. Hierdie nuwe ding van sout in poedings en koeke staan my g’n niks aan. Kan seker die sout uitlaat ne!

Rianette ·

Dit is baie min sout en dit verander nie die soetheid nie. Inteendeel, dit bring die smaak uit

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.