Soorte resepte:

[Resep] Malvalekkers

Foto: Lekker en Vinnig

Malvalekkers. Foto: Lekker en Vinnig

Tydens vakansietye is die gesin altyd lus om iets soet te smul. Dié malvalekkers is ’n maklike en vinnige manier om die hele gesin gelukkig te hou.

Lewer ± 50 porsies

Bestanddele:

  • 25 g (40 ml) gelatienpoeier
  • 200 ml water
  • 400 g (500 ml) suiker
  • 2 eierwitte
  • 5 ml vanieljegeursel
  • 2 druppels amandelgeursel (opsioneel)

Bedekking

  • 80 g  (250 ml) fyn, droë klapper of 60 ml versiersuiker en 60 ml mielieblom

Metode:

  1. Smeer ʼn vlak glasbak of bakplaat (ongeveer 30 x 20 cm) met margarien. Verwarm ʼn oondvaste mengbak deur dit ʼn paar minute lank in die oond te sit voordat die eierwit geklits word. Dit verhoed dat die mengsel begin stol voordat dit goed geklits is.
  2. Plaas die gelatien in ʼn oondvaste 500 ml-beker, bedek met water en mikrogolf dit ± 1 minuut lank by medium.
  3. Plaas die suiker in die warm mengbak, voeg die eierwit, geursel en warm, gesmelte gelatien by en klits goed totdat die mengsel in volume vermeerder en wit en lig van tekstuur word, maar steeds vloeibaar bly. Indien die mengsel te gou stol, laat die bak vir ʼn paar minute in warm water staan en klits verder.
  4. Giet die mengsel in die voorbereide bak of pan, smeer glad, en laat 15-20 minute lank staan om te stol. Gebruik ʼn warm, droë, skerp mes om blokkies te sny.
  5. Bedekking: Indien klapper gebruik word, strooi dit egalig op ʼn bakplaat en bak ± 8-10 minute lank by 180 °C of tot liggies gerooster. Indien die versiersuiker en mielieblom as bedekking gebruik word, sif dit saam om egalig te vermeng.
  6. Strooi/sif die helfte van die klapper of versiersuikermengsel oor ʼn kombuisplank en keer die malvalekkers daarop uit. Bestrooi met die klapper of sif die mengsel oor. Maak los met ʼn mes en rol elke malvalekker in die klapper of mengsel om aan alle kante te bedek. Skud die oortollige klapper of mengsel af.
  7. Plaas die malvalekkers in ʼn lugdigte houer en verseël vir latere gebruik. Bêre op ʼn koel, droë plek.

Variasie

  1. Voeg 5 ml kakaopoeier of kitskoffie by die suiker vir ʼn kakao-en-koffiegeur-Iekkerny, en laat die lekkers in twee lae stol, soos hierbo beskryf.
  2. Doop die malvalekkers in sjokolade vir luukse lekkers. Breek 200 g donkersjokolade in ʼn oondvaste bakkie en smelt oor die stoom van pruttende water of ± 2 minute lank by medium in die mikrogolfoond. Doop die lekkers daarin en laat afkoel. Plaas in klein papierkoppies of op ʼn afkoelrak om te dreineer en ferm te word.

Wenk:

As die malvalekkers aan jou hande of lepel vaskleef, maak jou hande of lepel effens nat met water. Die lekkers sal dan maklik afgly.

Bron: Lekker en Vinnig – Lekkers
Uitgewer: Lapa
Resep oorspronklik gepubliseer in Vatkos, Carolie de Koster.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.