Soorte resepte:

Resep: Outydse doekpoeding

Outydse doekpoeding (Foto: Lapa-uitgewers)

Doekpoeding is iets wat ons amper nie meer ken nie, maar dit is regte boerekos op sy beste!

Lewer 10-12 porsies

Bestanddele

  • 600 g pitlose rosyne
  • 150 g (250 ml) korente
  • 150 g (250 ml) versuikerde vrugte soos pynappel, kersies en vye, gekap
  • 300 g (500 ml) dadels, fyn gesny
  • 25 ml versuikerde sitrusskil
  • 50 ml brandewyn
  • 12,5 ml sjerrie
  • vierkantige doek van ongebleikte linne
  • Holsum
  • 60 g (250 ml) vars witbroodkrummels
  • 125 ml melk
  • 422 g (875 ml) koekmeel
  • 12,5 ml bakpoeier
  • 10 ml fyn kaneel
  • 2 ml gerasperde neutmuskaat
  • 5 ml fyn gemmer
  • 2 ml sout
  • 230 g (250 ml) botter of margarien
  • 5 eiers
  • 200 g (250 ml) bruinsuiker
  • 10 ml koeksoda
  • 50 ml melk
  • 37,5 ml appelkooskonfyt

Metode

  1. Berei die vrugte voor. Giet die brandewyn en sjerrie oor, bedek dit en laat oornag staan.
  2. Berei ʼn doek voor deur ʼn vierkantige doek van ongebleikte linne te gebruik. Maak dit nat en droog goed uit. Smeer dit met Holsum en bestrooi met meel.
  3. Week die broodkrummels in 125 ml melk.
  4. Sif die koekmeel, bakpoeier, speserye en sout saam en vryf die smeer in.
  5. Klits die eiers baie goed en klits die bruinsuiker by. Los die koeksoda op in die 50 ml melk en klits die koeksodamengsel by die eiermengsel.
  6. Voeg die krummels en die eiermengsel by die droë bestanddele om ʼn stywe beslag te maak. Gebruik ʼn bietjie ekstra melk, indien nodig. Die beslag moet styf wees, anders sal die vrugte afsak.
  7. Roer die appelkooskonfyt by die vrugtemengsel, voeg dit by en meng goed.
  8. Plaas ʼn emaljebord op die boom van ʼn groot genoeg kastrol. Dit voorkom dat die doek en die poeding brand. Maak die kastrol ± ⅓de vol kookwater. Skep die deeg in die middel van die doek. Die punte en kante van die doek word in een hand bymekaargevat en met ʼn toutjie bokant die hand vasgemaak om ruimte te laat vir die poeding om te rys. Plaas die poeding op die bord in die kokende water, sit die deksel op en stoom die poeding 4½ uur lank. Moenie die deksel binne die eerste uur oplig nie. Vul die water met kookwater aan, indien nodig.
  9. Die beslag kan ook in ʼn eietydse poedingvorm gestoom word.

Bron: Lekker en Vinnig: Traditionele kos

Uitgewers: Lapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

TOPPIE ·

Ek is n man en ek weet nie, want ek het nog nooit doekpoeding geëet (sover ek onthou nie in elk geval), maar ek wonder maar net of daar nie n makliker manier is om iets te maak wat maar dieselfde gaan proe nie? Hierdie klink vir my geweldig omslagtig.

Linda ·

Ek is in ekstase oor hierdie resep !!! My ouma en my ma het dit altyd met kerstyd gemaak en oogedien met n warm brandewyn sous. Na hul afsterwe kon nie een van ons hierdie resep gekry het nie. Ek het basies onthou, maar kon nie die hele resep onthou nie. Dis presies die resep wat hier aangegee was. Daai jare het my ouma nog 5 sente, toe silwer, gekook, in in die poeding gesit wat ons kerstye ge-eet het, dan soek jy die 5 sent !!! Ek gaan dit hierdie jaar maak en almal verras ! Dankie vir hierdie wonderlike resep !!!!

Linda ·

Sarie, ek wonder of n moeseliendoek sal werk, want terwyl die poeding in die pit in sy sak kook maak hy die lekkerste skil. Mens kan seker n mieseluendoek gebruik maar ek sal n kussinsloop koop, goed uitwas en oopsny. My ma en ouma het altyd die destydse mieliemeel sakke gekook in jik, goed gewas en dit gebruik vir die poeding. Nouse dae kry jy mos nie meer meel in sakkies nie.

Linda ·

Ek het nou gesit en dink, as ek n linne kussingsloop koop, hom goed was, dan rol ek hom op, skep die beslag in, rol weer op, meet, en bind vas met n toutjie. Dit sal perfek werk !!!!

Linda ·

Ek dink as mens n kussingsloop gebruik en jou poeding is klaar, haal uit pot uit, sny sloop aan beide kante oop sodat poedibg nie breek as jy hom uithaal nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.