Soorte resepte:

[Resep] Pan-broodpoeding

Foto: Nina se kombuis

Pan-broodpoeding. Foto: Nina se kombuis

Hierdie poeding kan natuurlik baie spoggerig raak as die melk met room en die suiker met vanielje-strooisuiker vervang word, maar die basiese beginsels bly dieselfde.

Lewer 8 porsies

Bestanddele:

  • 4 eiers
  • 500 ml vars room
  • 5 ml fyn kaneel
  • 2,5 ml neutmuskaat – vars gerasper is die beste
  • 125 ml strooisuiker
  • 1 vanieljepeul, oopgesny en saadjies uitgeskraap
  • 8 snye dag-oue mosbolletjiebrood
  • 125 g botter vir braai
  • kaneelsuiker of stroop om voor te sit
  • vars bessies om voor te sit

Metode:

  1. Voorverhit die oond tot 180°C. Klits die eiers, room, kaneel, neutmuskaat, suiker en vanieljepeul saam in ʼn bak.
  2. Rangskik die snye brood in ʼn reghoekige oondvaste bak en giet die eier-en-room-mengsel daaroor. Laat staan vir minstens 30 minute lank totdat die brood al die vloeistof geabsorbeer het.
  3. Smelt die botter in ʼn pan oor medium hitte. Haal die snye brood uit die eiermengsel en skud die oortollige eier af.
  4. Braai die snye brood tot goudbruin aan albei kante. Hou die snye brood in die oond warm, terwyl jy die res braai. Sit voor met kaneelsuiker of stroop en vars bessies.

Indien jy sukkel om mosbolletjies te kry, kan jy dag-oue rosyntjie-brood gebruik. In plaas van vars bessies kan jy ingelegde vye of gemmer saam met die broodpoeding voorsit.

Bron: Maklike Maaltye uit Nina se kombuis
Uitgewer: Random House Struik

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.