Soorte resepte:

[Resep] Peppermint Crisp®-tert

peppermint-crisp-driehoektert

Foto: Carmen se beste resepte

Peppermint Crisp®-tert is my man se gunsteling, en ook talle ander Suid-Afrikaners s’n. Dit word gewoonlik in ʼn Pyrex-bak gemaak, maar ek maak dit in ʼn broodvorm sodat ʼn mens dit makliker kan sny. In die 1980’s was driehoekterte baie gewild. Vir ʼn retro-voorkoms kan ʼn mens hierdie een ook só voorsit.

Bestanddele:

  • 1 blik (360 g) karamelkondensmelk
  • 1 k (250 ml) geroomde maaskaas
  • 6 stafies Peppermint Crisp
  • 1 pak (200 g) Tennisbeskuitjies
  • 1¼ k (300 ml) room, verkoel
  • kruisementblaartjies en vars bessies om mee te versier.

Metode:

  1. Voer ʼn mediumgroot broodpannetjie met kleefplastiek uit, groot genoeg sodat dit ook oor die kante hang.
  2. Meng die karamelkondensmelk en maaskaas tot goed gemeng.
  3. Plaas 4 van die sjokoladestafies in ʼn plastieksak en maak met ʼn rolstok fyn.
  4. Pak ʼn laag Tennisbeskuitjies op die bodem van die voorbereide broodpan.
  5. Skep ʼn laag karamelmengsel oor en smeer gelyk oor die beskuitjies.
  6. Klits 250 ml (1 k) van die room styf en smeer ʼn laag oor die karamelmengsel.
  7. Strooi ʼn laag van die fyngemaakte sjokolade bo-oor.
  8. Herhaal die lae, en eindig met ʼn laag beskuitjies
  9. Vou die kleefplastiek toe oor die tert en verkoel oornag in die yskas.
  10. Keer uit op ʼn dienbord en haal die kleefplastiek af.
  11. Smelt die ander 2 Peppermint Crisp-stafies saam met die res van die room in ʼn mikrogolfoond op hoog of in ʼn glasbak oor kookwater.
  12. Giet die gesmelte sjokolademengsel oor die tert. Laat staan tot die versiersel stewig is.
  13. Versier met kruisementblaartjies en bessies.

Variasie:

Peppermint Crisp®-driehoektert

  1. Gebruik 2 pakkies (200 g elk) Tennisbeskuitjies. Pak die beskuitjies in drie rye van vier elk op ʼn groot vel aluminiumfoelie uit.
  2. Meng die karamelkondensmelk, maaskaas en 250 ml (1 k) styfgeklopte room.
  3. Smeer ʼn lagie oor die Tennisbeskuitjies. Pak nog ʼn laag Tennisbeskuitjies op.
  4. Vou die gekapte Peppermint Crisp®-sjokolade by die res van die roommengsel in en skep dit oor die middelste ry van die beskuitjies.
  5. Gebruik die aluminiumfoelie en vou die buitenste beskuitjies oor die vulsel toe om ʼn driehoek te vorm.
  6. Maak die aluminiumfoelie toe en vries vir 6 uur.
  7. Haal uit vrieskas en giet die gesmelte sjokolademengsel bo-oor. Laat hard word.
  8. Sny in skywe en versier met kruisementblaartjies en bessies.

Bron: Carmen se beste resepte
Uitgewer: Human & Rousseau

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Delia ·

Verstaan nie mooi nie…..is dit 1/4 K room of 300ml?
Neem aan moet wees 1 plus 1/4 K room ?

Landi Slatter ·

Dagsê Delia,

Dankie vir jou navraag. Dit is inderdaad 1¼ koppie. Ons het die berig gewysig.

Groetnis
Landi nms Maroela

Ruby ·

Sarie, kalmeer, die resep was bietjie verwarrend en is toe gewysig deur Maroela.

Geniet die tert!

Deon Bruyns ·

Ek het aangeneem dat ek die (gebreekte) Peppermint Crisp in ‘n plastieksakkie moet sit, en dan met ‘n koekroller moet rol tot fyn.
Wel, die “tannies” het nie gesê dat die Peppermint Crisp verkoel moet wees nie, want in hierdie hitte klou onverkoelde sjokolade aan die plastiek vas.
Lekker tert!
Groetnis uit Hermanus!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.