Soorte resepte:

[Resep] Pistasieneut-en-bosbessienougat

Foto: Lekker en Vinnig

Pistasieneut-en-bosbessienougat. Foto: Lekker en Vinnig

Lewer 5 porsies

Jy benodig ʼn suikertermometer vir hierdie resep.

Bestanddele:

  • 2 velle ryspapier
  • 125 ml heuning
  • 290 ml strooisuiker
  • 30 ml water
  • 2 eierwitte
  • 250 ml pistasieneute, ontdop en grofgekap
  • 250 ml droë bosbessies

Metode:

  1. Spuit ʼn vierkantige 15 cm-koekpan met kleefwerende kossproei. Sny die ryspapier so groot soos die bodem van die pan en voer dit daarmee.
  2. Meng die heuning, suiker en water in ʼn kastrol. Roer oor matige hitte tot die suiker opgelos is. Moenie dat die stroop kook voor die suiker nie heeltemal opgelos is nie.
  3. Kook die stroop vir sowat 7-8 minute (maar moenie roer nie) of tot dit die hardekraak-stadium (164 ˚C) op ʼn suikertermometer bereik.
  4. Klits die eierwitte in ʼn hittebestande bak. Voeg die stroop geleidelik by die eierwitte terwyl jy deurentyd klits. Klits tot die mengsel dik en blink is.
  5. Roer die pistasieneute en bosbessies by. Skep die mengsel vinnig in die voorbereide koekpan. Sprei uit oor die hele pan. Sit die tweede stuk ryspapier bo-op.
  6. Laat staan vir sowat 2 uur. Doop jou mes in versiersuiker of mielieblom en sny in ewe groot stafies.

Bron: Lekker en Vinnig – Lekkers
Uitgewer: Lapa
Resep oorspronklik gepubliseer in Rooi Rose Versamel resepte, Vickie de Beer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

SNEL ·

Dit lyk heerlik, ek hou vreeslik baie van nougat, hoe meer neute hoe lekkeder. Ek wou dit al graag self gemaak het, maar ek gril my dood as ek sien n ding word gemaak en die eier kry nêrens in die resep behoorlik hitte om gaar te word nie….daarom koop ek eerder nougat, dan sien en weet ek mos van niks en smul ek tog te lekker. Dieselfde met mayonnaise, as ek dit moet maak sal ek dit nie eet nie, maar die gekooptes sluk ek maklik af. Lekker simpel van my, maar nou ja, dit werk vir my. Ek het nog altyd sulke rou eier resepte “geside step”, maar ek dink die een wat nie gelatien vat nie en wat eenvoudige bestandele het gaan ek n “go” gee en my dan net verbeel ek is op “fear factor” as ek daai eerste hap vat.

Ek is seker ryspapier sal by n Chinese winkel of n winkel wat Asiatieseprodukte verkoop gekry word. Die Spar het ook nogal partykeer volksvreemde goed, miskien selfs by hulle. Lyk my ek sal eers Skattejag moet speel voor ek kan bak, dis nou al ding wat die resep bietjie “handicap”. Wonder wat sal gebeur as mens die ryspapier los…sal dit vassit of wat?

Kowa ·

Ryspapier is eetbaar en bly op die lekkers. As jy mooi kyk sal jy sien dat die wat jy koop ook ryspapier onder en bo-op het.

SNEL ·

Ja, ek weet ryspapier is eetbaar en dat nougat dit om het, hulle smelt sommer weg in jou mond. Daardie rabbit toffees wat mens by die Chinese winkels koop het dit ook om, maar waar koop mens net ryspapier om die resep te kan maak en as mens nou nie kry nie en die resep sonder dit maak, wat gaan gebeur, gaan die nougat aan die bak vassit of hoe, want ek weet nie of dit keer dat dit vassit nie, of rond dit net die nougat bo en onder af?

Amber ·

Ryspapier is maklik bekombaar by bakwinkels. Hier in die Kaap, is Value Baking Supplies. Paarl het ook n groot tak. Enige volksvreemde bestandeel vir bak, kan jy daar koop. Selfs in grootmaat.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.