Soorte resepte:

Resep: Roomyslollies

roomyslollies

Foto: 7de Laan vier fees

Aggie van 7de Laan deel een van haar gunstelingresepte:

“As kind was daar min dinge wat my so vinnig van ’n seer knie of toon kon laat vergeet as ’n roomyslollie. My ma het oor somervakansies sommer ’n hele klomp in verskillende kleure en geure in die freezer gehou. Dan het ek en my boeties en sussies baklei oor wie watter kleur mag kry.”

Jogurt-roomyslollies (lewer 4 lollies)

Bestanddele:

  • 135 ml bessiejogurt
  • 60 g bloubessies, grofgekap

 Metode:

  1. Skep ’n bietjie van die jogurt in ’n lolliehouer.
  2. Voeg dan van die bessies by en vul die res van die houer met jogurt.
  3. Sit die lolliestokkie in en bevries oornag.

Vrugtesap-roomyslollies (lewer 6 lollies)

Bestanddele:

  • 60 g frambose
  • 180 ml vrugtesap (gebruik ’n deursigtige sap)

Metode:

  1. Plaas ewe veel frambose in elke lolliehouer en maak vol met vrugtesap.
  2. Sit die lolliestokkies in en bevries oornag.

Sjokolade-roomyslollies (lewer 6 lollies)

  •  90 g melksjokolade
  • 120 ml room, liggies geklits

Metode:

  1. Smelt die sjokolade in ’n bak oor ’n kastrol met baie warm water. Laat die gesmelte sjokolade ’n bietjie afkoel.
  2. Voeg ’n bietjie van die gesmelte sjokolade by die geklitste room en meng deur.
  3. Voeg die res van die sjokolade by en roer weer deur.
  4. Skep in die lolliehouers, sit die lolliestokkies in en bevries oornag.

Wenk:

Indien jy nie lolliehouers het nie, kan jy jogurtbakkies gebruik. Wag dan tot die mengsel ’n bietjie gevries het en druk die stokkies in die middel van die lollies.

Bron: 7de Laan vier fees
Uitgewer: Human en Rousseau

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.