Soorte resepte:

Resep: Sjokolade-en-grondboontjie-sushi

Sjokolade-en-grondboontjie-sushi (Foto: Lapa-uitgewers)

Hier is ʼn lekker soetding wat indrukwekkend lyk ook!
Lewer 10 stukkies

Bestanddele

  • 50 g 85%-donkersjokolade
  • 50 g ongesoute botter
  • 20 g xylitol
  • 2 e suikervrye grondboontjiebotter
  • 2 e mascarpone
  • 2 e roomkaas

Metode

  1. Smelt die sjokolade, botter en die helfte van die xylitol saam in ’n klein kastrol oor matige hitte.
  2. Sodra alles goed gesmelt en vermeng is, gooi dit uit op ’n bakplaat bedek met ’n goed gesmeerde silikoonvel. (NB: ’n Silikoonvel is ’n moet vir hierdie resep!)
  3. Gebruik ’n slaplemmes om die sjokolade eweredig en dun op die silikoonvel uit te smeer. Verkoel vir 10-15 minute in die yskas sodat dit effens kan stol en buigbaar is.
  4. Terwyl die sjokolade verkoel, plaas die grondboontjiebotter, mascarpone, roomkaas en die res van die xylitol in ’n klein kastrol oor matige hitte en laat alles goed saamsmelt.
  5. Verwyder van die hitte en gebruik ’n ballonklitser om die mengsel goed te klits. Verkoel dit ook vir 10 minute in die yskas.
  6. Haal die sjokolade-en-grondboontjiemengsel uit die yskas. Smeer die grondboontjiemengsel met die slaplemmes oor die sjokolade.
  7. Nou kom die lekker deel, maar jy moet baie versigtig werk: Lig die silikoonvel op en lig dan die sjokolade baie versigtig met jou vingers van die silikoonvel af. Rol dit om sodat jy met die sushi-rol kan begin. Hou aan om die sjokolade stukkie vir stukkie op dié manier op te rol totdat al die sjokolade opgerol is.
  8. Doop ’n skerp mes in warm water en begin om die rol in 2 cm-skywe te sny. Doop die mes ná elke sny weer in die warm water en vee dit ook skoon ná elke sny. Herhaal tot die hele rol opgesny is.
  9. Verkoel die sjokolade-sushi verder in die yskas sodat dit heeltemal kan stol.

Wenk: Toe ek hierdie resep getoets het, was die grondboontjiemengsel geneig om te skei, maar ek het dit vinnig met ’n ballonklitser geklits om die vulsel weer lekker romerig te maak.

 

Bron: Armand kook kaal deur Armand Aucamp

Uitgewer: Lapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.