Corlea Botha deel haar heerlike tiramisu-resep.
Lewer 8 porsies
Bestanddele:
Koffiemengsel
- 500 ml (2 k) kookwater
- 75-90 ml (5-6 e) sterk koffiekorrels
Roommengsel
- 8 eiers
- 125 ml (½ k) strooisuiker
- 50 ml amaretto of karamelvodka
- 25 ml brandewyn
- 500 g (2 x 250 g) mascarponekaas
Afronding
- 400 g (2 x 200 g) vingerbeskuitjies
- ekstra amaretto of karamelvodka
- kakao vir bo-oor
Metode:
- KOFFIEMENGSEL Meng kookwater en koffiekorrels in vlak bakkie. Hou eenkant tot benodig.
- ROOMMENGSEL Skei eiers. Gebruik twee diep mengbakke.
- Klits eiergele met elektriese klitser tot romerig en liggeel, ongeveer 5 minute.
- Klits strooisuiker en amaretto of karamelvodka by eiergele. Klits weer vir 2 minute met elektriese klitser.
- Voeg brandewyn by en klits weer goed met elektriese klitser vir 1 minuut.
- Voeg mascarponekaas by en klits weer met elektriese klitser tot glad.
- Klits eierwitte met skoon klitsers tot stywepuntstadium. As mengbak omgedop word, moet eierwitte nie uitval nie.
- Vou eierwitte by romerige mengsel in tot net gemeng, maar moenie te veel roer nie.
- AFRONDING Doop vingerbeskuitjies in koffiemengsel, draai dan vinnig om en haal ná 2 sekondes uit, solank koekie net nie breek nie.
- Sit dit langs mekaar in tertbak van 34 x 22 cm wat met kossproei gespuit is.
- Smeer helfte van roommengsel oor koekies tot koekies nie meer sigbaar is nie.
- Sprinkel ʼn bietjie amaretto of karamelvodka liggies oor roommengsel.
- Herhaal koekie-, roommengsel- en amaretto- of karamelvodkalaag.
- Laat in yskas vir 4 uur tot gestol. Sny in blokke en skep in tertbordjies.
- Sprinkel kakao en neute (opsioneel) oor net voor opdiening.
Wenk: Goedkoop is duurkoop. Maak seker jy het gehaltetoerusting, skerp messe en vars produkte.