*Vervang die rooswater deur suurlemoen- of vanieljegeursel. Laat dan die pienk kleursel weg.
Lewer 16 blokkies
Bestanddele:
- 30 ml gelatienpoeier
- 50 ml koue water
- 500 ml witsuiker (400 g)
- 75 ml mielieblom
- 1 ml sitroensuur
- 200 ml water
- 10 ml rooswater*
- pienk koskleursel*
- 60 ml mielieblom
- 60 ml versiersuiker
Metode:
- Laat week die gelatien in die water en hou eenkant. Bespuit ’n hittebestande plastiekbakkie van ongeveer 120 x 120 x 50 mm met kleefwerende kossproei. (’n Groterige toebroodjiekosblik werk goed.)
- Meng die suiker, mielieblom, sitroensuur en water in ’n kastrol saam tot glad. Verhit oor lae hitte totdat die suiker opgelos het. Kook die mengsel vir 5-7 minute tot dik en gaar. Verhelder die geweekte gelatien oor kookwater of mikrogolf dit vir 20 sekondes by hoog (100% krag). Roer die verhelderde gelatien saam met die rooswater en ’n paar druppels pienk kleursel by die gaar mengsel. Gooi die mengsel in die voorbereide plastiekbakkie. Laat eers ’n bietjie afkoel en plaas dan in die yskas om te stol.
- Sny die Turkse lekkers met ’n mes met ’n dun, skerp lem in 4 x 4-blokkies. Doop die lem in kookwater en vee droog tussen snye.
- Sif die mielieblom en versiersuiker saam. Rol die lekkers in die versiersuikermengsel. Skud oortollige versiersuiker af en bêre tussen lae waspapier in ’n lugdigte houer in die yskas.
Kan ek dit bêre?
- Die Turkse lekkers kan vir ’n week verkoel word. Dit kan nie gevries word nie.
Bron: SA kookboek vir allergieë en voedselsensitiwiteit
Uitgewer: Tafelberg
Regte Turkse lekkers kry nie gelatien in nie en is selfs eenvoudiger om te maak as hierdie resep. Gebruik slegs water, mielieblom, suiker en geursel. Dan hou dit maande lank sonder om sleg te word.
Paul, hoe lyk dit met ‘n resep van jou Turkse lekkers….sal dit graag wil bekom!
Dankie.
Ek het so n paar maande egte Turkse lekkers uit Turkye gekry. Het maar net soos ons eie geproe. Turkse vye is natuurlik die maatstaf.
dis nou iets wat maklik lyk om te maak vir die soet tand..
Waar koop of kry mens rooswater? Ek bly in die Bosveld met naaste GROOOOOOOT WINKELS 100km weg.
Rooswater te koop by n Apteek.
Gaan die een verseker probeer. Ek het `n paar dae voor my troue Sally williams gekry wat chocolate cover het. Dit was hemels op my wonderlike dag…. en nou soek ek nog…
Ek is gaande oor hierdie delight…. maar my resep was n fatale TAAI disaster ! ?