Hierdie resep mors nie nog rond met afmetings nie. Een blikkie van dít, twee pakkies dát, dis mos hoe dit gedoen word!
Lewer 1 groot tert
Bestanddele
- 1 blikkie (440 g) pynappelstukkies in stroop
- 2 pakkies (2 x 80 g) pynappeljellie
- 1 blikkie (380 g) ingedampte melk
- 2 pakkies (2 x 200 g) Tennisbeskuitjies
Metode
- Dreineer pynappelstroop in ʼn bakkie en verhit dit vir 1 minuut in die mikrogolf.
- Gooi die jellie by die stroop en roer om op te los.
- Laat die jelliemengsel effens afkoel en roer dan pynappelstukkies by. Hou eenkant.
- Klits ingedampte melk styf en gooi dan pynappelmengsel daarby. Vou in tot alles gemeng is.
- Pak ʼn laag beskuitjies in ʼn tertbak en gooi die helfte van die pynappelmengsel bo-oor. Smeer dit plat met ʼn lepel. Pak nog ʼn laag beskuitjies en gooi die res van die mengsel oor. Smeer weer plat sodat die tert eweredig is.
- Laat oornag in yskas, sny in blokke en geniet!
Ek het hierdie resep baie gemaak. My enigste probleem is dat die ingedampte melk wat jy deesdae koop, wil nie styf klits nie. Die soort wat altyd op die rakke was, is nou nie meer te koop nêrens nie.
Gebruik room styf geklits
Dit is belangrik om die Ingedampte melk in die yskas te plaas totdat dit goed koud is anders sal dit nie styf klits nie.
Jip – goeie en maklike outydse resep nes my ma dit gemaak het! DIS die tipe van resep waarvan ek hou. Niks se geklits die, weeg daai, skei doerie ens ens… Mens raak MOEG vir kook na baie jare doen en as mens nog werk ook soek jy maklike kortpad resepte.
Mens kan enige ander ingelegde vrugte ook gebruik, soos bv Fruit Cocktail en dan Perske of Kersie jellie. Die Ingedampte melk
moet yskoud wees. Ek hou sommer dit altyd in die yskas.
Ek gebruik suurlemoen jellie, dan is dit nie so soet nie.
Pas gemaak. Heerlik, nes my ma s’n. Dankie!
Ek gebruik 1 houertjie Orley Whip in plaas van die Ingedampte Melk en slegs 1 pakkie pynappeljellie poeier. Elke keer heerlik!