Soorte resepte:

Verkilde bessies met geurige witsjokoladesous

‘n Nagereg ideaal vir ‘n Suid-Afrikaanse somer. Om deur die yskoue bessies te byt terwyl die romerige, warm sjokoladesous daaroor vou, sorg vir ‘n goeie kontras en smaaksensasie.

Bestanddele:
750 g vars gemengde bessies soos swartbessies, braambessies, frambose, aarbeie, ensovoorts (of gebruik ‘n pakkie gemengde bevrore bessies)
1 vanieljepeul
3 kardemomsade
1 klein rooi brandrissie, ontpit en fyngekap (opsioneel)
250 ml (1 k) vars room
200 g witsjokolade, in stukkies gebreek

Metode:
1. Was die bessies en sny die vars aarbeie, indien gebruik, skoon. As die aarbeie groot is, halveer hulle of sny hulle in kwarte. Plaas al die bessies in ‘n plastieksak en plaas in die vrieskas vir 15 – 30 minute. Hulle moet net-net begin vries – nie hard gevries wees nie. Indien jy bevrore bessies gebruik, laat hulle effe ontdooi sodat hulle nie kliphard nie, maar tog yskoud is.

2. Maak die sous terwyl die vrugte in die vrieskas is. Sny die vanieljepeul in die lengte middeldeur en skraap die vanieljesaad uit. Druk die kardemomsade fyn. Meng beide met die brandrissie en room in ‘n klein kastrol. Verhit tot dit liggies prut, verwyder van die hitte en laat staan vir 15 minute sodat die geure kan ontwikkel.

3. Giet die room deur ‘n sif en plaas saam met die sjokolade in ‘n glasbak. Verhit in die mikrogolfoond op medium vir 2 – 3 minute – stop en roer deur ná elke minuut.

4. Haal uit die mikrogolf en roer deur totdat die sjokolade heeltemal gesmelt het en opgelos is in die room. Bedruip die verkilde bessies met die warm sjokoladesous en sit voor.

Genoeg vir 6 – 8.

Resep oorspronklik gepubliseer in Japtrap Braai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.