Soorte resepte:

Stygende kospryse: Rek jou rand só

voedsel

Foto: Pixabay.com

Stygende kospryse weens die droogte beïnvloed reeds ons sak, en kenners reken dat ons vir minstens 18 maande heelwat meer vir kos gaan betaal. Volg dié wenke om jou inkopierande te rek:

  • Kyk na varsprodukte se vervaldatums. Varser produkte word dikwels agter die ouer produkte gepak. Koop die varsste moontlike item op die rak.
  • Beplan vooruit: Kook vir twee aande op ʼn slag, of kook só dat jy oorskiet kos kan saamneem werk toe. Só mors jy minder.
  • Koop ʼn kleiner verskeidenheid varsprodukte as waaraan jy gewoond is, gebruik dit op en koop volgende keer weer ʼn ander verskeidenheid produkte, sodat jy nie varsprodukte hoef weg te gooi omdat dit oud word voordat jy dit kan opgebruik nie.
  • Maak ʼn vinnige som om te bereken watter grootte of verpakking van ʼn produk jou die goedkoopste gaan uitwerk. Werk byvoorbeeld uit wat ʼn rol toiletpapier kos in ʼn pak met 15 rolle teenoor ʼn pak met 20 rolle. Groter hoeveelhede werk dikwels goedkoper per gewig uit. Pasop net vir die sielkunde hiervan: As daar ʼn groot houer warmsjokolade in die kas staan, is die versoeking groot om elke aand daarvan te drink, terwyl ʼn klein houertjie jou sou gedwing het om net elke tweede aand te drink. Jy bestee dus meer, nie minder nie.
  • Gebruik in die winter oorskietvleis en -groente in ʼn pot sop die volgende aand.
  • As jy nie tyd het om ʼn lysie te maak van items wat jy nodig het nie, maak die yskasdeur oop en neem ʼn foto van die inhoud. Só kan jy vinnig in die winkel kyk of jy iets nodig het voor jy dit inlaai.
  • Maak ʼn huisreël dat sekere luukse items soos warmsjokolade, tamatiesous en koeldrank nie vervang word as dit voor die einde van die maand gedaan is nie.
  • Kies ʼn mandjie of waentjie wat ooreenstem met die hoeveelheid items op jou lysie. ʼn Groot waentjie sê vir jou kop dat jy maar nóg kan inlaai, al het jy reeds alles op jou lysie uitgesoek.
  • Navorsing wys dat ʼn mens minder in die supermark bestee wanneer jy kontant betaal. As jy vinnig winkel toe ry om brood te gaan koop, los jou beursie tuis en neem net genoeg kontant saam vir ʼn brood. Só vermy jy die versoeking om “een of twee” ander klein goedjies ook te koop.
  • Beplan spyskaarte seisoenaal: Avokado’s en sitrusvrugte is goedkoper in die winter, maar peperduur in die somer, omdat dit ingevoer word.
  • Moenie goedsmoeds glo dat ʼn afslagprys goedkoper is as ander produkte op die rak nie. ʼn Produk wat teen ʼn afslagprys geadverteer word, is dikwels goedkoper as wat dié item gewoonlik is, maar steeds duurder as dieselfde item van ander handelsmerke. Vergelyk pryse voor jy inlaai.
  • Koop sover moontlik elke keer by dieselfde supermark. As jy die winkel goed ken, kan jy reguit na die items stap wat jy nodig het en dit inlaai. In ʼn onbekende winkel waar jy moet soek vir items kan jy produkte raaksien wat jy nie ken of nodig het nie en impulsief besluit om dit op die proef te stel.
  • Maak seker jy is nie honger wanneer jy gaan inkopies doen nie. As jy honger is, is die kans goed dat jy allerlei items gaan inlaai net omdat dit lekker lyk en nie omdat jy dit nodig het nie.
  • Verwerk en vries varsprodukte as jy sien jy gaan dit nie opgebruik nie, sodat jy dit nie vermors nie. Gebruik varsprodukte soos tamaties wat ʼn bietjie oorryp is, maar nog nie vrot nie, in ʼn gekookte dis (maak seker jou gesinslede sien jou nie) of bak piesangbrood met oorryp piesangs.
  • Oorweeg aanlyn-inkopies vir jou maandelikse inkopies. Jy spaar tyd, brandstof en parkeergeld, en boonop word jy nie in die winkel verlei deur spesiale aanbiedinge nie.
  • Maak seker jy het al die basiese items in die kas sodat jy nie nodig het om vinnig winkel toe te ry vir ʼn pak pasta en terugkom met twee sakkies produkte nie. Wanneer een van die basiese items in jou kas op is, skryf dit op jou lysie en koop dit volgende keer as jy winkel toe gaan.
  • Gebruik ʼn e-lysie om jou inkopies te organiseer. Met ʼn gratis app soos Wunderlist kan jy ʼn inkopielysie (en ander lysies) maak, dringende items merk, ʼn datum en alarm daaraan koppel, en jou lysie met iemand anders in die huis deel. As een iets afmerk, verdwyn dit ook van die ander persone se lysies. Só maak julle seker jy en jou man kom nie albei met brood en melk by die huis aan nie.
  • Sommige supermarkte bied produkte wat op ʼn spesifieke dag verval op ʼn aparte rak teen afslagpryse aan. As jy die produk vir die aand se ete nodig het, loer gerus daar vir produkte in ʼn goeie toestand voordat jy ʼn varser, duurder produk koop.
  • Sluit aan by supermarkgroepe se lojaliteitsprogramme en spaar jou afslagpunte tot in Desember wanneer jy vakansie-inkopies moet doen. Jy sal verbaas wees oor die randwaarde van die afslagpunte wat jy deur die jaar bymekaar gemaak het.
  • By varsproduktemarkte kan jy vroeg op ʼn Saterdagoggend kraakvars vrugte en groente direk by die boer koop teen heelwat minder as wat die supermark vra. Jy kan boonop sommer die gesellige atmosfeer van die mark geniet! Dis ʼn heerlike uitstappie vir die hele gesin.
  • Eet een keer per week vegetaries. Vir ons Suid-Afrikaners is dit amper ondenkbaar om nié vleis in ons geregte in te sluit nie, maar met stygende vleispryse vanweë die droogte gaan dit binnekort dalk onvermydelik wees. Gebruik bestanddele soos bone en neute vir proteïen. Voeg vleis in ʼn dis by eerder as om dit as ʼn aparte item te bedien, sodat jy dit kan rek met groente en ander bestanddele.
  • Koop die supermark se eie handelsmerkprodukte. Dis gewoonlik nie so aantreklik nie omdat daar bespaar word op veelkleurige ontwerpe en verpakking. Maar die inhoud is meestal van dieselfde gehalte as ander, duurder produkte.
  • As jy vleis by die slaghuis koop, werk vooraf uit presies hoeveel van watter soort vleis jy nodig het, en vra dan die slagter om die regte hoeveelhede vir jou in pakkies op te maak. ʼn Pakkie voorafverpakte vleis is dalk 200 g meer as wat jy nodig het, maar dis nie asof jy dié 200 g eenkant gaan sit vir die volgende ete nie.

Bron:

Net soos ʼn pannekoek met die beste resep nog steeds kan flop, kan Maroela nie pa (of ma!) staan vir enige van die resepte wat jy self by die huis probeer nie. Elke koppie meel, bakpoeier, melk, eier of enige ander bestanddeel is dus in jou eie hande en Maroela Media kan nie enige verantwoordelikheid aanvaar vir komplimente (of klagtes) oor jou kookvernuf nie. -Red

Deel van: Karmenaadjies, Koolstoof, Só maak mens

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

5 Kommentare

Madelyn ·

Kos pryse styk vir die verbruiker, maar die boer kry nog steeds tussen R20 en R50 vir ‘n sak 5-6kg groenboontjies in die mark. Of tussen R30 en R40 vir ‘n 5kg baby marrows? Hoe verstaan mens dit? Die boer moet ook lewe. Hy het grondvoorbereiding, Eskom, water, kunsmis, plaagdoders, arbeid, verpakkings materiaal en vervoer om te betaal. Dan het hy nog nie eens vir homself of sy gesin ‘n salaris getrek nie. Ja ja, die boer eet uit die “land” uit, maar ook net die derde graad groente en vrugte…

ora ·

Ons is pensioenarisse en sorg dat ons ons pryse ken. Ons koop gereeld meer van ‘n nie-bederfbare produk as dit op “special” is. Maar jy moet jou pryse ken. Maak ook seker dat die rakprys en die prys by die kassier ooreenstem. Ons gaan ons lysie navoor ons die winkel verlaat en het al verskeie kere gevind dat ‘n hoër prys op die rekenaar by die kassier is. Ons dring aan op ‘n terugbetaling. Soms tot R10 op ‘n enkele item!

Eliza-beth ·

Ons sal nooit winkels toe ry NET vir ‘n brood nie. Ons gaan slegs 2 tot maksimum 3 maal per week winkels toe. Ons kweek ons eie groente en verwerk wat te veel is (vries, soppe, souse vir pasta ens) en maak ander planne as iets gedaan is eerder as om net winkels toe te ry. Goed soos blikkies bone (mens kry baie soorte en geure) en kekerertjies kan verseker ‘n maalvleisgereg baie rek en ook gewoonlik geuriger maak. Probeer gebakte bone- in- tamatiesous volgende keer in jou kerriemaalvleisgereg! Kyk gerus na dieselfde produk wat op heel boonste of heel onderste rak gepak is – dis baie keer goedkoper as die reg voor jou oë. Grootmaat is ook nie altyd goedkoper – dit het ek al oor en oor uitgevind. Mens dink om sommer ‘n voorbeeld te noem margarien in 500g bakkie is goedkoper terwyl twee 250g bakkies dalk goedkoper is – mens moet maar wakker loop as jy koop!

Bets Bothma ·

My man het, toe eerste sprake van hoë pryse ter sprake gekom het, vir ons in n baie klein spasie in die agterplaas n groentetuin aangelê en ons eet te heerlik aan ons vars groente – net nie spasie vir aartappels nie!

Griet ·

Daar is verskeie webwerwe waar mens aanduidings kry hoe om Aartappels in Emmers, Wasgoedmandjies en selfs ‘n stapel motorbande te kweek. Daarvoor het jy nie baie spasie nodig nie! Het dit nog nie self probeer nie, maar ek weet van mense wat dit so doen en dit werk 100%!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.