Soorte resepte:

Resep: Blitsvinnige mini-eier-wraps

Blitsvinnige mini-eier-wraps (Foto: Lapa-uitgewers)

Wraps (tortilla-voupakkies) is ʼn basiese bestanddeel wat heelwat mense op ʼn laekoolhidraatdieet verkies. Gelukkig is eiers so veelsydig en gesond dat dit blitsvinnig as ʼn plaasvervanger voorgesit kan word.

Wil jy ʼn Mexikaanse taco-aand hou? Hierdie wraps is ideaal daarvoor.

Vul dit met kaas, spekvleis, maalvleis, vars komkommer en wortels, avokado … enigiets wat jou hart begeer. Dit werk ook lekker in ʼn kosblik. Jy gaan wel ʼn enkel-eierpan benodig, maar dit sal die belegging werd wees!

Lewer 4 wraps

Bestanddele

  • 4 ekstragroot eiers
  • botter
  • grasuie, gekap
  • 1 wortel, in dun repies (julienne) gesny; gebruik ’n spiraalsnyer (“spiralizer” of “zoodler”)
  • ¼ komkommer, in dun repies (julienne) gesny
  • 1 k rooi kool, ekstra dun gesny
  • 6-8 jong tamaties, in kwarte gesny
  • 1 k boontjiespruite
  • ¼ k grondboontjies
  • varsgemaalde sout en peper
  • 1 suurlemoen se sap

Metode

  1. Breek 1 eier in ʼn mengbak en klits goed.
  2. Smelt ʼn bietjie botter in die eierpan oor matige hitte.
  3. Gooi ʼn baie dun laag eier daarin en strooi ’n knippie grasuie daaroor. Draai die eier na sowat ʼn minuut om. Moet dit nie oorgaar maak nie – dit sal die eier-wrap te bros maak.
  4. Verwyder en plaas eenkant. Herhaal stappe 1-3 met al die eiers.
  5. Plaas ʼn wrap op ʼn bord en vul met die gesnyde groente, boontjiespruite en ʼn paar grondboontjies. Geur met varsgemaalde sout en peper en drup ʼn paar druppels suurlemoensap daaroor.
  6. Tel dit soos ʼn gewone wrap op en geniet dit!

Bron: Armand kook kaal

Uitgewer: Lapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Ellisras ·

HELP. Ek is opsoek na ‘n slaaisous resep wat nie 10 bestanddele benodig wat 4 maal die prys is van winkel slaaisous is nie. Vir Mengelslaai

Kosie ·

Bietjie asyn of suurlemoensap bietjie suiker bietjie aangemaakte mosterd en knertsie olyfolie Skud of klits en siedaar! Maak elke keer net vir die oomblik

Chris ·

Hier gaat ons al weer met die engels …. wat is ‘n wrap???!!!!!!!! (O ‘ja dit word seker deur die nuwe AWS aanvaar)

Ellisras ·

Chris. Nou ipv kritiseer wat van ‘n oplossing. Stel ‘n woord of 2 voor. Afrikaners is plesierig.

Chris ·

Ellisras, Kom ons vra die Afrikaanse koskenners en kreatiewe taalkundiges om met ‘n mooi beskrywende Afrikaanse woord vorendag te kom, maar dit is onaanvaarbaar dat Engelse woorde so by ons taal insluip omdat ons taalkundiges te lui is.

Wilma hier onder is dalk nou nader aan ‘n oplossing. Kom jul kreatiewe mense, help.

Chris ·

Skuus Maroela, ek sien nou eers julle het in die eerste paragraaf hier bo die woord voupakkie gebruik, dis dan mos nou 100 die regte Afrikaanse woord, ipv die Engelse wrap.
Mag ons suiwer Afrikaans in 2019 vooropstel.

Willem ·

Voupakkies is die regte woord. Maroela het die in die eerste paragraaf in hakies gebruik.

wilma ·

Interessantheidshalwe, die woord “wrap” kom in die HAT voor met beskrywing as ‘n tipe pannekoekie met vulsel daarin.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.