Wanneer laas het jy sop gemaak?
Lewer 6-8 porsies
Bestanddele
- 30 ml (2 e) botter
- 15 ml (1 e) kanola-olie
- 1 ui, fyngekap
- 1 selderystingel, gekap
- 1 wortel, in blokkies gesny
- 1 knoffelhuisie, fyngekap
- 1 lourierblaar
- 5 ml (1 t) matige kerriepoeier
- 5 ml (1 t) fyn koljander
- 5 ml (1 t) fyn komyn
- 1 x 410 g-blikkie gekapte tamaties
- 375 ml (1½ k) rooi of bruin lensies, afgespoel
- 1,5 ℓ groenteaftreksel
- 1 suurlemoen, in wiggies gesny
- 250 ml (1 k) grofgekapte vars spinasie
Metode
- Verhit die botter en olie in ʼn swaarboomkastrol en braai die ui, seldery, wortel en knoffel vir vyf minute of tot die ui deurskynend is.
- Voeg die lourierblaar, kerrie, koljander en komyn by en braai dit liggies vir een minuut.
- Voeg die tamaties, lensies, aftreksel en suurlemoen by en verhit die sop tot kookpunt. Verlaag die hitte en laat dit vir een uur liggies prut tot die lensies sag en romerig is. Voeg nog ’n bietjie water by indien nodig.
- Skep die suurlemoenwiggies en lourierblaar uit en gooi dit weg.
- Voeg die spinasie by die sop en laat dit vir nog vyf minute prut. Bedien dadelik.
Bron: 50 beste sop- en broodgeregte
Uitgewer: Lapa