Soorte resepte:

Resep: Melkkos

Melkkos (Foto: NB Uitgewers)

Erna van Schalkwyk van Fraserburg in die Suid-Karoo se melkkos is pure plesier vir enige tyd van die jaar.

Lewer 4 porsies

Bestanddele

  • 375 ml koekmeel
  • 2 ekstragroot eiers
  • 2,5 ml sout
  • 200 ml ekstra koekmeel, vir strooi
  • 2,5 liter melk
  • kaneelsuiker om oor te strooi

Metode

  1. Meng die meel, eiers en sout tot ’n stywe deeg. Maak jou hande met waternat, indien nodig. Knie tot elasties en nie klewerig nie. Strooi van die ekstra meel op ’n skoon oppervlak.
  2. Deel die deeg in twee. Maak die een deel met kleefplastiek toe en hou eenkant. Plaas die ander deel op die meelbestrooide oppervlak en rol dit dun uit.
  3. Strooi nog meel oor die uitgerolde deeg. Rol die deeg in ’n stywe rol op en sny in wieletjies, sowat 2 mm dik.
  4. Strooi nog meel op die oppervlak. Rol die wieletjies in repies af. Die repies kan korter gesny word, soos verkies.
  5. Strooi meel in ’n bak en plaas die repies daarin.
  6. Verhit die melk stadig in ’n kastrol. Bewerk die ander stuk deeg soos die eerste stuk. Die melk moet goed warm wees wanneer die snysels bygevoeg word, maar moenie kook nie. Plaas ’n hand vol snysels in die warm melk en roer goed deur.
  7. Herhaal tot al die snysels in die melk is. Roer voortdurend tot die melk kook.
  8. Laat sowat 30 minute stadig prut. Roer af en toe tot die snysels gaar is.
  9. Bedien met kaneelsuiker.

Bron: VLV-kookboek

Die VLV-kookboek bevat ‘n versameling flatervrye resepte deur die lede van die Vroue-Landbouvereniging van Kaapland ter viering van hul 90ste bestaansjaar. Dit is ‘n onontbeerlike resepteboek deur ma’s en vroue vir vroue van alle ouderdomme.

Die Vroue-Landbouvereniging van Kaapland is ‘n nieregerende organisasie wat op 15 Oktober 1929 in Franschhoek in die lewe geroep is met die doel om persoonlike groei te bevorder en gemeenskapsdiens te verrig.

Uitgewer: Human & Rousseau
Prys: R350-00*
*Prys onderhewig aan verandering
Koop die boek by Graffiti Boeke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Nommer 7 ·

Baie lekker, maar ek is nie iemand vir die kospotte nie en het toe ‘n VEEL makliker manier gekry om melkkos te maak – vervang bloot die deegsnysels met halfgaar spagetti! Gebruik 2 lt melk en ‘n handvol spagetti of linguine. Laat die melk stadig kook terwyl jy ‘n koppie meel en bietjie sout saam sif. Vryf bietjie sagte botter in die meel dat dit frummeltjies maak. Sodra die melk kook, roer bietjie vir bietjie van die meel mengsel by. Laat 8min prut met degsel halfpad op. Na ongeveer 4 minute, voeg die halfgaar spagetti by. In totaal neem dit dan omtrent 15min, dan kan jy eet. Heerlik!!! (Ek het nie nou die presiese resep by my nie, maar dis min of meer hoe dit gaan… )

Patch ·

Ek ken hierdie as snysels. Die melkkos resep wat nou al lank in ons familie saam kom word van meel, gefrimmel met botter gemaak. En in plaas van suiker gooi ek ‘n blikkie kondensmelk saam met die melk in die pot.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.