Soorte resepte:

Resep: Mexikaanse omelet

Mexikaanse omelet (Foto: Lapa-uitgewers)

“Die geheim van ’n goeie omelet is ’n goeie kleefvrye pan! Moenie ’n omelet in jou derdejaarpan probeer maak nie. Jy sal misluk en met ’n hoop halfgebrande gemors sit! Ek is so obsessief dat ek een oggend met ʼn babalaas ʼn nuwe pan gaan koop het net om seker te maak die omelet sal perfek wees,” skryf Armand Aucamp in sy resepteboek, Armand kook kaal.

Lewer 2 porsies

Bestanddele

OMELETMENGSEL

  • 6 eiers
  • ¼ k room

SALSA

  • 2 groot tamaties
  • ½ rooi ui
  • ½ lemmetjie of suurlemoen se sap
  • vars koljanderblare, fyngekap

MEXIKAANSE VULSEL

  • olyfolie
  • 1 bruin ui, gekap
  • 1 groen soetrissie, gekap
  • 6 klein tamaties, in helftes
  • gesny
  • 1 t fyn komyn
  • ½ t fyn koljander
  • ¼ t knoffelpoeier
  • ¼ t rissiepoeier (opsionele skop)
  • 1 blik (400 g) rooi nierbone of swart bone, gedreineer
  • 1 k gerasperde kaas (wit gouda is my gunsteling vir hierdie resep)
  • varsgemaalde sout en peper

Metode

  1. Klits die eiers en room saam in ’n mengbak en laat eenkant staan.
  2. Kap die tamaties en rooi ui grof vir die salsa en plaas in ʼn klein bakkie. Meng met die lemmetjie-/suurlemoensap en voeg die fyngekapte koljanderblare by. Hou eenkant sodat die geur kan ontwikkel.
  3. Om die vulsel te maak, verhit die olyfolie in ʼn pan en braai die ui tot gaar. Voeg die groen soetrissie en tamaties by en braai tot sag. Voeg al die droë speserye (onthou dat die rissie opsioneel is) en bone by en verminder tot lae hitte. Pasop om te veel te roer en die bone pap te druk. Geur met varsgemaalde sout en peper na smaak.
  4. Verhit in ʼn goeie kleefvrye pan ʼn bietjie olyfolie oor matige hitte. Gooi die helfte van die eiermengsel in die pan. Maak seker dat die mengsel die bodem van die pan eweredig bedek.
  5. Sodra dit ná sowat ʼn minuut ligbruin is, lig ʼn stukkie van die omelet met ʼn eierspaan op. Strooi die helfte van die kaas oor die hele omelet.
  6. Skep die helfte van die Mexikaanse vulsel bo-op slegs een kant van die omelet en vou die omelet netjies in die helfte met die eierspaan. Ja, ek besef ʼn paar plekke sal nog effe rou lyk, maar dit sal verder gaar word nadat jy dit omgevou het. Niks is slegter as ʼn oorgaar, rubberagtige omelet nie!
  7. Jy kan nou maar die plaat afskakel. Plaas die deksel op die pan en laat vir nog ʼn minuut op die hitte.
  8. Bedien saam met vars salsa en ekstra koljanderblare … en miskien ʼn knertsie tequila!

 

Bron: Armand kook kaal deur Armand Aucamp

Uitgewer: Lapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Marius ·

Ek maak al jare lank foutlose omelette in ‘n baie ou pan (de Buyer ysterpan – teflonpanne is deur die duiwel gemaak). Ek braai dit soos gewoonlik in ‘n bietjie olie en gooi net ‘n bietjie water om die kante in, as die omelet amper gestol het – en die omelet sit nooit vas nie.

Elmer Swanepoel ·

Wanneer gebruik jy die ander helfte van die eiermengsel?

Anja van der Merwe ·

Dagsê Elmer

Dankie vir jou navraag. Die resep lewer 2 porsies, so die ander helfte van die eiermengsel word vir die tweede omelet gebruik.

Lekker bak!

Groetnis
Anja
nms Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.