Dit is ʼn lekker slaai vir ʼn kosblik!
Lewer 6 porsies
Bestanddele
SLAAI
- 2 middelslag-patats met pers skil, in 3 x 3 cm-blokkies gesny
- 15 ml makadamia- of kanolaolie
- 2,5 ml sout
- 1 groot ferm mango, in blokkies gesny
- 60 ml grofgesnyde vars koljander
- 60 ml gedroogde bosbessies
- 60 ml geroosterde kasjoeneute
SLAAISOUS
- 5 ml gerasperde vars gemmer
- 1 knoffelhuisie, fyngekap
- 30 ml suurlemoensap
- 60 ml laevet-klappermelk
- 5 ml heuning
- 5 ml fyngekapte groen brandrissie (opsioneel)
Metode
- Voorverhit die oond tot 220 °C. Plaas aluminiumfoelie op ’n bakplaat.
- Versprei die patatblokkies op die bakplaat. Bedrup met olie en sprinkel sout daaroor. Rooster omtrent 30 minute tot sag. Roer af en toe. Laat die patats afkoel.
- Maak intussen die slaaisous deur al die bestanddele saam te roer.
- Plaas die mango en koljander in ’n slaaibak en meng saam met die afgekoelde patats en slaaisous.
- Sprinkel die bosbessies en neute daaroor. Sit warm of by kamertemperatuur voor.
Wenke:
- Sit voor saam met geroosterde of gerookte snoek (gekoop) of hoendersosaties (gekoop).
- Vervang die patats met kekerertjies, glutenvrye volgraanpasta of jong aartappels met die skil aan vir ekstra vesel.
Bron: Gesonde Kosblikkie deur Martie Hofmeyr en Janet Wiegand
Uitgewer: Lapa