Soorte resepte:

Resep: Tamatie-en-basiliekruidsop

Tamatie-en-basiliekruidsop (Foto: Lapa-uitgewers)

“Tot sowat ses jaar gelede kon ek ’n tamatie nie oor my lippe kry nie. En ’n sop gemaak van tamaties? Maak jy ’n grap?! Vandag is tamatiesop egter een van my grootste gunstelinge. Tamatiesap is glad ’n ander ding. Maak jy ’n grap?! Wat ek met hierdie vinnige staaltjie probeer sê, is dat ons verander. Ons almal verander. En dis oukei,” skryf Armand Aucamp in sy resepteboek, Armand kook kaal.

Lewer 4-6 porsies

Bestanddele

  • 8-10 vars jongtamaties
  • 2 knoffelhuisies, in kwarte gesny
  • Olyfolie
  • 1 e droë basiliekruid
  • varsgemaalde sout en peper
  • 1 bruinui, gekap
  • 1 groot wortel, in skywe gesny
  • 2 blikke (2 x 400 g) gekapte tamaties
  • 1 liter hoenderaftreksel (goeie gehalte)
  • 2 e balsamiese asyn
  • 4 heel basiliekruidblare
  • suurroom
  • basiliekruidblare, fyn gekap

Metode

  1. Voorverhit die oond tot 180 °C.
  2. Plaas die tamaties en knoffel in ’n roosterbak en drup olyfolie daaroor. Strooi die droë basiliekruid daaroor en geur met varsgemaalde sout en peper. Rooster vir 15 minute in die oond.
  3. Braai die ui en wortel in nog olyfolie in ’n diep soppot tot ligbruin terwyl die tamaties rooster.
  4. Voeg die blikke tamaties en hoenderaftreksel by. Stel die hitte op laag sodra dit begin kook. Voeg die balsamiese asyn by, plaas die deksel op die pot en laat vir 15 minute prut.
  5. Haal die tamaties uit die oond sodra dit klaar gerooster het en laat effe afkoel. Voeg dit saam met die knoffel in die pot en laat vir nog 5 minute prut.
  6. Gooi die heel basiliekruidblare in die pot en gebruik ’n handvoedselverwerker om die sop deeglik fyn te blits.
  7. Bedien met ’n bietjie suurroom en ’n knippie gekapte basiliekruidblare.

 

Bron: Armand kook kaal deur Armand Aucamp

Uitgewer: Lapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.