Soorte resepte:

Verbruikersake: Hoe organies is jou kos?

wortels-organiese-kos

Foto: Dana DeVolk/Unsplash.com

Almal wil deesdae “skoon” eet. Geen bymiddels in hul kos nie, dankie en die kos moet ook organies wees. En as die winkel aandui dat die kos organies is, dan is dit mos. Of nie? Verbruikers het onlangs geskok gereageer toe toetse wat die groep Topic SA op twee groentes van ʼn bekende supermark gedoen het, gewys het dat een daarvan wel met ʼn swamdoder behandel is. Mense kies spesifiek organiese groente omdat dit nie met enige chemikalieë behandel is nie. Ina Opperman verduidelik wat organiese kos is en hoe verbruikers beskerm word.

Verbruikers is bereid om meer vir organiese kos te betaal, maar as jy nie seker is dat die kos wel organies is nie, waarvoor betaal jy dan? Dit is duur om organies te boer omdat dit duurder is om mee te begin, meer arbeidsintensief is en laer oeste lewer. Lande moet ook langer braak lê, terwyl die akkreditasieproses ook duur is.

Wat is organiese kos?

Volgens die Food Advisory Consumer Service (Facs), die land se eerste onafhanklike voedsel- en voedingsdiens vir verbruikers, word organiese kos geproduseer sonder die gebruik van kunsmatige kunsmis, chemiese plaagdoders, stowwe wat groei versnel en voerbymiddels vir vee. Dus sal organiese kos minder oorblyfsels van landbouchemikalieë hê as kos wat van plase kom waar konvensioneel geboer word. Weens algemene omgewingsbesoedeling kan hierdie produkte egter nie totaal vry wees van oorblyfsels (residu) nie.

Organiese kos word geproduseer volgens tradisionele metodes, soos oesrotasie, bemesting, hergebruik van stowwe wat op die plaas geproduseer word (soos veemis), onkruidbeheer deur bossies met die hand uit te trek, pesbeheer wat nie die omgewing benadeel nie, homopatiese middels en vrylopende diere. Die hoofoogmerk van organiese boerdery is om te verseker dat die grond, plante, diere en mense in die ekostelsel op ʼn goeie manier interafhanklik funksioneer.

Die term “organies” beskryf eerder die boerderymetode as die eienskappe van die kos en daarom is die geur, voedsaamheid en gesondheidsvoordele van organiese kos nie beter as kos wat van konvensionele boerderye kom nie.

Dieselfde goeie produksieprosesse, inhoudstandaarde, etikettering en voedselveiligheidstandaarde wat op kos van konvensionele plase van toepassing is, is ook van toepassing op organiese kos.

Wat is beter?

Mense kies organiese kos omdat hulle dink dit is beter vir hul gesondheid en die omgewing. Volgens Facs is daar drie kwessies betrokke waaraan jy moet dink, naamlik hoe veilig die kos is, hoe voedsaam dit is en hoe gesond dit is wanneer jy besluit om organiese kos in jou inkopiemandjie te laai.

Voedselveiligheid

Sintetiese plaagdoders mag nie in organiese boerdery gebruik word nie en daarom glo verbruikers dit moet minder aanwesig wees in organiese kos. Bioplaagdoders kan egter steeds aanwesig wees, volgens Facs, saam met stowwe wat die omgewing besoedel.

Wanneer veemis gebruik word vir bemesting, kan kos besmet word met patogene wat siektes veroorsaak en die grond en oppervlakwater kan ook besmet word. Dit is dus belangrik om die kos voor gebruik te was en dit goed te kook om ontslae te raak van mikro-organismes en vir boere om die gebruik van kompos en veemis behoorlik te bestuur. Insekbeskadiging van organiese plante kan ook die oorsaak wees van swamme wat daarop groei of die afskeiding van gifstowwe, wat voedselvergiftiging kan veroorsaak. Hierdie risiko is egter nie groter as by kos wat van konvensionele plase kom nie.

Voedsaamheid

Daar is nog nie enige wetenskaplike bewys gevind dat organiese kos voedsamer is nie, maar die biotegnologie wat op konvensionele plase gebruik word, kan die voedsaamheid beïnvloed.

Gesondheid

Volgens Facs wys wetenskaplike navorsing dat die gesondheidsrisiko’s verbonde aan patogene wat siektes veroorsaak, groter is as die risiko’s verbonde aan die oorblyfsels van plaagdoders wat mens inkry. Goeie boerderypraktyk behoort die fokus te wees in alle plaasproduksie om seker te maak daar is minder skadelike stowwe op kos.

Facs waarsku dat verbruikers moet ligloop vir bemarking wat dit laat blyk asof organies outomaties gesonder beteken, aangesien die voedselstowwe wat natuurlik in kos voorkom, ongesond kan wees of die kos nou organies is of nie. Die vetgehalte van kaas bly byvoorbeeld dieselfde, of die kaas gemaak is van organiese melk of melk van ʼn konvensionele melkery.

Wetlike beskerming vir verbruikers

Suid-Afrika het geen wetgewing oor die produksie van organiese voedsel nie, maar die departement van landbou probeer al jare lank om regulasies in te stel ingevolge van die Wet op Landbouprodukstandaarde.

Die plaaslike bedryf gebruik daarom internasionale regulasies wat uitgereik is deur die International Federation of Organic Agricultural Movements (IFOAM) en boere moet gesertifiseer word deur internasionale liggame soos SGS (Switserland), Ecocert (Frankryk) of die Britse Soil Association.

Die vereistes vir ʼn produk om organies te wees, is dat dit voldoen aan die standaarde vir organiese boerdery van produksie tot prosessering, verpakking, vervoer en verspreiding. Gesertifiseerde organiese produkte het almal ʼn amptelike sertifiseringsnommer op die verpakking.

Vrylopend en organies?

Vrylopend en organies beteken nie noodwendig dieselfde wanneer na diereprodukte verwys word nie. Volgens Facs is diere wat in ʼn groot, oop plek kan rondloop, vrylopend (soos vir organiese vee), maar hulle kan steeds met veeartsenymiddels behandel en gevoer word met voer wat bymiddels bevat, terwyl diere volgens organiese metodes slegs plantvoeding kry en met homopatiese middels behandel word.

Hoe om te kies

Wanneer jy dus moet besluit of jy organies gaan eet, moet jy dink aan hoe goed die boerderypraktyk vir die omgewing is en hoe daar met diere gewerk word. En natuurlik: hoe voel jou beursie daaroor?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Anoniem ·

Hierdie organiese besigheid is net n eyeblind. Ons het met “organiese uie” op ons plaas geboer destyds en glo my daai goed is net so gespuit soos al die ander op die plaas, net met goed wat nie so “optelbaar” is op toetse nie. Dis nonsens!!

Boerseun ·

Jy sal nooit die massas voer met organies nie. Nooit, ooit ooit. Organies is vir die rykes want so produk kos. Jy organies bvb nie Tuta nie.

Daan ·

Die probleem is nie by die produksie nie, maar by die behandeling daarna om die raklewe te verleng. Onthou, gekoopte tamatie het ongevver 1000km vervoer en is ongeveer 5dae oud, gaan doen dit met ‘n tamatie in jou tuin en kyk of hy nog vars is.

Boerseun ·

Nee. Dis die kultivar en verkoeling proses wat bepaal hoe lank sy rak lewe gaan wees. Sekere kultivaar (wat jy nie sommer in Builders gaan koop) hou 2-3 weke sonder verkoeling. Dis bvb die tamaties wat ZZ2 plant

Piet ·

Boerseun, nou waar kan man in die straat daai kultivar kry om self te plant?

Hendrik ·

Moderne landbouchemikalië is baie veiliger as sekere goedgekeurde middels soos kopersulfaat wat in organiese produksie gebruik word. GMO mielies met die Bt geen het baie minder swamgroei as gevolg van insekskade as organiese mielies, fus ook baie minder mikotoksiene wat kanker veroorsaak. Laastens word mis dikwels op organiese boerderye gebruik en in die VSA het Chipolte se kliente by die honderde siek geword van hulle organiese kos. Organiese kos is met vir die voedsel snobs.

Andrew ·

Die kanker deel stem nie ooreen met die boete wat Monsanto opgelê is in Amerika waar Roundup bewys is as kanker-gewind, nie.

Hendrik ·

‘n Jurie is nie geskik om te besin oor n hoogs wetenskaplike onderwerp nie. Ek is 100% seker daardie bevinding sal omgekeer word. Die oorweldigende hoeveelheid navorsing en 50 jaar se gebruik bewys dat Roundup veilig is. Veiliger as jou koffie, tafelsout, drankie of kopersulfaat wat organiese boere gebruik.

OWO ·

Die groente op die foto is ”hydroponic”geproduseer.Die een lyk soos die ander een.Met organiese produksie vertoon die produkte voller en die vorms verskil van mekaar.

Anoniem ·

Owo my aartappels wat ek koop lyk ook maar een soos die ander en hulle us nie hidroponies gegroeu nie, hoop ek hetbdie woord reg daar, so jou stelling hou nie water nie. Baie kinders lyk ook dieselfde, just saying jy weet….

Staak saam ·

Organiese produkte is SA behoort niemand te kwel nie, dit is bloot n nuwe kuur.
Waarop die SA verbruiker wel sy aandag moet vestig is riool vrye produkte, cholera is al in ons ondergrondse water waarmee besproei word en waarmee produkte gewas word voor verpakking.

As jy weer n rou wortel uit n pakkie eet dan is dit net so goed jy het grond van hom afgesoep in jou toilet en reguit in die mond gedruk.

Smaaklike ete mense!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.