Soorte resepte:

Verminder só jou gesin se soutinname

(Foto: Pixabay)

Van 4 tot 11 Maart is dit Internasionale Soutbewusmakingsweek en in dié week val die kollig op die uitwerking van oormatige soutinname op jou liggaam. Daarom moedig ER24 mense aan om meer bewus van hul soutinname te wees en oormatige soutinname te verminder.

ʼn Hoë soutinname in jou dieet kan tot hoë bloeddruk, beroerte, hartprobleme, osteoporose, maagkanker, nierkwale en vetsug lei.

Volg hierdie maklike wenke om jou en jou gesin se soutinname te verminder:

  • Verminder die inname van kosse wat ooglopend meer sout bevat, soos aartappelskyfies, spek en gepekelde kosse. Wanneer jy groente in blikkies koop, kies eerder groente wat in water verpak as gepekel is.
  • Maak die skuif na kosse met ʼn lae natriuminhoud.
  • Indien jy aftrekselblokkies gebruik, kyk op die verpakking vir ʼn handelsmerk wat laag is in sout en gehidrogeneerde olies.
  • Verminder die hoeveelheid sout wat jy byvoeg wanneer jy kosmaak.
  • Gebruik eerder kruie en speserye om jou kos te geur, in plaas van sout.
  • Moenie sout by die tafel byvoeg nie, of proe ten minste eers die kos voordat jy dit doen – die kos het waarskynlik nie eens die ekstra sout nodig nie.
  • Lees die etikette van kos wanneer jy inkopies doen. Hoewel dit moeilik is om te bekom, soek vir kosse wat 0,25 g sout of minder per 100 g bevat (0,1 g natrium of minder per 100 g), of soek na die kosse wat die naaste aan dié vereistes kom.
  • Deur kos by die huis voor te berei, kan jy tot ʼn groot mate jou soutinname verminder, omdat jy beheer het oor die voorbereiding van die kos en wat jy daarin sit. Wegneemkosse het tradisioneel hoë hoeveelhede sout in, wat óf bygevoeg word óf reeds deel van die voorbereiding is van dié geprosesseerde kosse.
  • Pak jou kinders se kosblikke self, eerder as om kitskos te koop.
  • Berei ʼn gebalanseerde maaltyd voor vir jou kinders. Hulle middagete moet ʼn volgraan stysel (byvoorbeeld lae GI‑broodrolletjies of volgraanstafies), ʼn maer proteïen (maer kouevleis, eiers, bone) en ʼn vrug bevat.
  • Kosblikke moet steeds interessant wees en ouers moet seker maak dat die porsiegrotes geskik is vir ʼn die kind se ouderdom en eetlus. Idees vir na-skoolse peuselhappies sluit in lae-vet jogurt met vars vrugte, geblikte vrugte in vrugtesap of vars groentestokkies met maaskaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

HPV ·

Sjoe, biltong en droëwors, nie maklik nie. Dit is soort van my stapelvoedsel met met hoender en vark as my slaai.

Ann van niekerk ·

Ek kon nie my lag keer nie. Die artikel oor hoe om sout inname te beperk. En die volgende artikel.: resep met gesoute snoek!?

Andre ·

Hoe water my mond nou vir n vars bokkom….en kaas…….met wyn…..

Marie Botes ·

Dis ironies dat hierdie artikel direk langs die “Gesout snoekpoffertjie” resep verskyn.

Piet ·

Hoekom wil sekere mense aan ander sekere mense voorskryf hoe en wat om te eet. Is ons nog op skool?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.