Soorte resepte:

Vervelige sout nóú geurige sout

Sout is ʼn geurmiddel wat almal in hul huise het, en wat in enige gereg gebruik kan word, maar dit kan ook vinnig vervelig raak. Daarom het Erik du Preez van My Recipe Room vorendag gekom met ’n nuwe soort sout wat met vrugte gegeur is.

Pynappel en lemoen, bessies en pere, koffie en sjokolade, aarbei en perske is alles geurkombinasies wat jy in My Recipe Room se sout sal kry. Du Preez het aan Maroela Media vertel dat dié onderneming eintlik per ongeluk ontwikkel het toe iemand lemoenskille wou weggooi.

“Ek het op ʼn wynplaas in die Paarl in die gasvryheidbedryf gewerk. Daar was oorskiet lemoenskille ná ʼn geselligheid wat weggegooi sou word, maar ek het vir die sjefs gevra om dit te bêre. Ek was seker ek sal van iewers inspirasie kry om iets daarmee te doen,” sê Du Preez.

Hy het toe die lemoenskille uitgedroog en dit gebruik om ʼn hoendergereg te geur.

“Ek het die hoender met die gedroogte lemoenskille en sout gegeur, en dit het so lekker geproe! Toe dink ek: ‘Hoekom maak ʼn mens nie sout wat reeds die geur van regte lemoen in het nie?’”

Erik du Preez (Foto: Verskaf)

Du Preez het begin eksperimenteer met geure en het sy heel eerste potjie lemoen-en-pynappel-sout gemaak. Hy het dit met sy vriende gedeel en hulle het hom aangemoedig om dit te begin verkoop.

Nadat Du Preez sy lemoen-en-pynappel-sout gemaak het, het hy begin droom oor ʼn sout wat ʼn pers kleur het.

“Dink net hoe mooi sou dit wees as jy pers en geel sout ook kry! Dink net hoe mooi sal dit wees as jy ʼn pragtige pers sout oor ʼn vars slaai strooi,” het hy gedink.

Hy het toe begin om sy vrugtesout uit die kattebak van sy motor te verkoop.

Deesdae werk Du Preez met Bloemfontein as basis omdat hy meen die Vrystaatse hitte is baie beter vir die drogingsproses. Hy het in Januarie verlede jaar vir die eerste keer van sy unieke sout verkoop en het sedertdien al meer as 35 000 botteltjies sout verkoop.

Vrugtesout, kruiesout en sout wat met verskillende soorte wyn gemeng is, is ook beskikbaar.

My Recipe Room se gourmet-sout word van hoë kwaliteit sout gemaak, dit bevat geen MSG of preserveermiddels nie en is 100% organies. Die sout word ook in die son gedroog en nie met toerusting of in droogkamers nie.

“Ons gebruik regte vrugte en ons maak ʼn pulp daarvan. Die pulp word gekook en oor die sout gegooi. ʼn Net word oor die sout geplaas en dit droog dan buite in die son uit voordat dit in die botteltjies gegooi word,” sê Du Preez.

Du Preez sê dit was vir hulle ʼn uitdaging om die regte verhouding sout en vrugte te kry, omdat die sout in die vrugtepulp oplos as die verhouding nie reg is nie.

Omdat My Recipe Room nog in sy kinderskoene staan, bestaan die span slegs uit drie mense. Maar Du Preez glo dat hulle suksesvol is omdat almal hart en siel in die onderneming is.

Du Preez is passievol daaroor om werk te skep omdat hy self al gesukkel het as entrepreneur.

“Ek het as kind redelik swaargekry, so ek het altyd ʼn plan gemaak om ietsie te verkoop of om ʼn entrepreneur te wees. Ek wil hierdeur ook graag die geleentheid gee aan ander mense wat nie andersins die geleentheid sou hê nie.

“Ons probeer ook om dit klein te hou, ons wil dit nie industrieel maak nie. Ons sal nog hande bysit soos wat ons groter word,” sê hy.

My Recipe Room se sout is tans by sommige Superspar-winkels en op Takealot te koop.

Du Preez en sy span spesialiseer veral daarin om die sout vir sakeondernemings as geskenke voor te berei. Mense kan dan self kies watter geure en kleure hulle in hul sout wil hê.

Du Preez sê die vreemdste kombinasie wat iemand al van hom gevra het, was lemmetjies, suurlemoen en lietsjie. Die kombinasie wat, volgens hom, mense die meeste verras omdat die vreemde smake so goed saamwerk is sjokolade en koffie.

“Die sjokolade-en-koffie-sout werk baie lekker op geroosterde groente, maar ook op enige rooivleis. Dit sal jou regtig verbaas! Dit is ook heerlik op springmielies,” sê hy.

My Recipe Room se sout kan aanlyn bestel word en is landswyd beskikbaar. Hulle het ook al sout in Engeland en Australië afgelewer.

Du Preez sê dié sout sal jou kos verryk, oemf aan jou geregte gee en dit plaas op ʼn vlak waartoe geen normale sout in staat is nie.

Vir meer inligting of bestellings, besoek die webtuiste hier.

Net soos ʼn pannekoek met die beste resep nog steeds kan flop, kan Maroela nie pa (of ma!) staan vir enige van die resepte wat jy self by die huis probeer nie. Elke koppie meel, bakpoeier, melk, eier of enige ander bestanddeel is dus in jou eie hande en Maroela Media kan nie enige verantwoordelikheid aanvaar vir komplimente (of klagtes) oor jou kookvernuf nie. -Red

Deel van: Koolstoof, Leefstyl

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 22:00 en 06:00 op Vrydagaande, Saterdae, Sondae en Maandagoggende.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.

5 Kommentare

Toffie ·

Ek is nou so opgewonde oor die sout dink net hoe lekker sal sal wees saam met spanspek en feta slaai veral nou dat dit somer raak.

Sanet Van Rooyen ·

Wow..kan nie wag dat dit op rakke is..sal great wees met somerslaaie..

Anna ·

Klink vir my soos n advertensie. Is julle nie veronderstel om te sê as julle betaalde inhoud plaas nie?

Geurige sout ·

Ag Anna, wat is jou probleem? Dit is ‘n promosieartikel; wat is fout daarmee? Ek persoonlik is baie bly om van hierdie verskeidenheid geurige, unieke sout kennis te neem; gaan beslis vir my daarvan op Takealot bestel. Dit is iets nuut om die lewe ‘n bietjie op te kikker.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 22:00 en 06:00 op Vrydagaande, Saterdae, Sondae en Maandagoggende.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.