Dit is nie elke dag wat jy hoor van ʼn blinde kok nie.
Die Amerikaner Christine Ha is blind en het in 2012 die gewilde TV-reeks MasterChef gewen. In ʼn video wat sy onlangs op haar YouTube-kanaal gedeel het, kan jy self sien: Sy kán kosmaak.
“Ek het besluit die eerste video wat ek in 2017 op my YouTube-kanaal gaan deel, sal wys hoe ek kos voorberei,” het Ha op haar webblad, The Blind Cook, geskryf. “Ná navrae wil ek graag meer video’s deel van waar ek besig is om te kook.”
Op die video kan jy sien hoe sy ʼn tipiese gereg vir ʼn weeksaand voorberei. Die video is met twee kameras opgeneem, waarvan een ʼn GoPro-kamera wat aan Ha se voorkop vas is. Die video is al meer as 40 000 keer op YouTube gekyk.
Ha het die uitleg van die kombuis in haar geheue vasgelê. Haar sig is van só ʼn aard dat sy in die regte beligting kan sien as iemand hul hande voor haar oë hou.
Wat ‘n pragtige glimlag van die jonge dame. Dit kom diep uit haar wese. Ek kan sommer die geur ruik en haar kos proe. Alle sukses op jou pad vorentoe.