Soorte resepte:

Video: ‘I love it when you talk foreign’

Foto: Skermskoot uit die video

Foto: Skermskoot uit die video

Ons was almal dol oor die Wimpy-advertensie waar die jong man sy meisie beïndruk deur vreemde woordjies soos “macchiato ” en “caffè mocha” in haar oor te fluister. As jy dié koffieterme ken, kan jy dalk ook net ʼn aantreklike koffie-entoesias se aandag in ʼn geselskap trek:

  • Barista: ʼn Persoon wat spesialiseer in die bedien van ʼn verskeidenheid koffiedrankies met espresso as basis. ʼn Barista wat sy of haar naam werd is, het deeglike opleiding ondergaan om dié titel te kan gebruik.
  • Espresso: ʼn Baie sterk skeut koffie wat gewoonlik die basis vir koffiedrankies is, hoewel baie mense daarvan hou om dit net so te drink. Espresso is baie ryk en het bo-op ʼn lagie – die crema – wat tydens die brouproses vorm.
  • Cappuccino: Espresso met gestoomde melk en baie skuim bo-op. ʼn Cappuccino is sterker as ʼn latte as gevolg van die verskillende hoeveelhede melk in die twee drankies. Die aantal espresso’s wat daarin gebruik word, hang af hoeveel jy in jou bestelling versoek. ʼn Goeie cappuccino se oppervlak behoort die tekstuur van room te hê, met byna geen borreltjies wat in die skuim te siene moet wees nie.
  • Americano: ʼn Skeut espresso met warm water. Die sterkte van ʼn americano hang af van die hoeveelheid espresso’s wat jy daarin versoek het.
  • Macchiato: ʼn Skeut espresso met ʼn klein bietjie melkskuim in ʼn espresso-koppie.
  • Crema: Die rooibruin lagie skuimerigheid wat bo-op ʼn espresso te siene is. Dit vorm wanneer lugborrels met die koffie se oplosbare olies gekombineer word deur die druk van die water van die espresso-masjien. ʼn Duidelike crema in ʼn skeut espresso, wat aan ʼn goeie cappuccino die kenmerkende bruin randjie rondom die wit skuim in jou koppie gee, is ʼn teken van ʼn vaardige barista.
  • Caffè latte: Espresso met meer melk as skuim, en nie so sterk soos ʼn cappuccino nie.
  • Latte-kuns: Die mooi prentjie waarmee jou cappuccino soms bedien word. Dit word gevorm deurdat die barista die gestoomde melk by ʼn skeut espresso gooi op só ʼn wyse dat die twee vloeistowwe ʼn prentjie vorm waar dit bo-op die drankie met mekaar in aanraking kom.
  • “Cupping”: Die praktyk om die geure en aromas van verskillende gebroude koffies waar te neem en met mekaar te vergelyk (amper soos wynproe in die wynbedryf), maar dit word meestal net deur professionele persone in die koffiebedryf gedoen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.