Soorte resepte:

[Video] Sjef Snoekie laat die potte sing met resepteboek

Sjef-Snoekie

Foto: Facebook/Sjef Snoekie

Sjef Snoekie, skepper van die splinternuwe resepteboek, Laat die potte sing, het by Maroela Media kom kuier om oor haar liefde vir kook te gesels.

Snoekie (soos haar vriende haar noem) is eintlik Marlise Scheepers – ʼn voormalige nuusredakteur en joernalis. Dis egter haar liefde vir kook en sing wat haar hart gelukkig maak.

“Ek was op universiteit ’n Puk gewees en daar in die koshuis was dit tradisie dat jy nie dieselfde naam as jou senior mag hê nie. Daar was toe ʼn senior met die naam Marlise, en omdat ek sulke krulhare het, het hulle toe besluit my naam is Snoekie.”

Marlise het eers ongeveer tien jaar gelede, nadat sy Frankryk besoek het, ordentlik aan die kook gegaan en begin nalees oor kos. “Ek het voorheen van kook gehou, maar kon dit nooit regtig uitleef op universiteit nie omdat ’n mens maar op ʼn armmansbegroting leef. In my ma-hulle se huis wou my ma nie regtig hê ons moet in haar kombuis eksperimenteer nie – sy het gesê ons gaan net mors,” skerts sy.

Sy het ʼn deeltydse sjefkursus gedoen terwyl sy by die koerant gewerk het, en toe besluit om dit met ʼn internskap in Amerika op te volg. “Ek het vir ʼn jaar by die Marriott Marquis-hotel in Atlanta, Georgia, onder sjef Alexander Busch, gewerk. Dit was ongelooflik!”

Dit wil voorkom asof Marlise se resepteboek ʼn weerspieëling van haar persoonlikheid is –warm, toeganklik en vol stories. “Volgens my is kos ʼn groot deel van herinnering – as jy iets ruik of proe, herroep dit gedagtes. As ek slaptjips en sout en asyn ruik, dink ek aan die kafee naby ons skool, waar die kinders pouse oor die muur gespring het om skyfies te koop. Die stories in my resepteboek is herinneringe wat ek neergepen het.”

Marlise het haar gunstelinggeregte vir dié boek uitgesoek. Hoewel dit moeilik was om te kies, het sy haar op ʼn emosionele vlak laat lei. “Ek het resepte gekies wat my aan mense laat dink het, wat my laat terugdink het.”

Laat die potte sing bevat maklike resepte wat almal kan baasraak. Marlise sê kosmaak is beslis nie “rocket science” nie. “Jy sal sien die foto’s lyk ook soos kos wat ʼn mens kan maak – dit lyk nie na iets wat ’n mens sweet op die bolip gee nie.”

Besoek Lapa se webwerf om Laat die potte sing te koop of gaan kyk op Sjef Snoekie se webwerf vir meer besonderhede.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.