Soorte resepte:

Resep: Lynvis met lensies en kruisement-en-komkommer-raita

Lynvis met lensies en kruisement-en-komkommer-raita (Foto: Gunsteling braairesepte, Lapa)

Vars, geurig en anders. Stel gerus hierdie een op die proef!

Genoeg vir 4

BESTANDDELE

Lynvis

  • 1 e (15 ml) gerasperde vars gemmer
  • 2 t (10 ml) fyngerasperde suurlemoenskil
  • 2 knoffelhuisies, fyngedruk
  • ¼ k (60 ml) gekapte Italiaanse pietersielie
  • 2 e (30 ml) gekapte koljanderblare
  • Sout en varsgemaalde swartpeper
  • 2 e (30 ml) suurlemoensap
  • 2 e (30 ml) olyfolie
  • 1 e (15 ml) gesmelte Clover Farmstyle-botter
  • 4 x 200 g vars, ferm lynvisfilette
  • Vars koljanderblare vir opdien

Lensies

  • 1 e (15 ml) olie
  • 2 e (30 ml) Clover Farmstyle-botter
  • 1 ui, gekap
  • 2 knoffelhuisies, fyngedruk
  • 1 e (15 ml) matige kerriepasta
  • 2 wortels, in blokkies gesny
  • 3 selderystingels, in blokkies gesny
  • 1 x 215 g blikkie tamatiepuree
  • 2 x 410 g blikkies bruin lensies, gedreineer en afgespoel
  • Sout en varsgemaalde swartpeper
  • ¼ k (60 ml) Clover-room
  • ¼ k (60 ml) gekapte vars koljanderblare

Komkommer-en-kruisement-raita

  • 1 klein Mediterreense komkommer, grof gerasper
  • (125 ml) ongegeurde Griekse jogurt
  • 1 knoffelhuisie, fyngedruk
  • 1 t (5 ml) heuning
  • 1 e (15 ml) gekapte vars kruisement
  • Sout en varsgemaalde swartpeper

METODE

Lynvis

  1. Stamp die gemmer, suurlemoenskil, knoffel, pietersielie, koljander, sout en swartpeper fyn in ’n stamper en vysel of voedselverwerker.
  2. Klits die suurlemoensap, olyfolie en gesmelte botter saam.
  3. Roer dit deur die pietersieliemengsel.
  4. Verf die mengsel oor die visfilette en braai die vis op ’n gesmeerde plat gietysterplaat vir 4-5 minute (afhangende van die dikte van die filette) aan ’n kant tot gaar. Bedruip gereeld met die sous tydens die braaiproses.

Lensies

  1. Verhit die olie en botter in ’n pan en braai die uie en knoffel liggies vir 4-5 minute, of tot sag.
  2. Voeg die kerriepasta, wortels en seldery by en braai vir 3 minute.
  3. Voeg die tamatiepuree by en prut vir 7-8 minute of tot die groente sag is.
  4. Voeg ’n bietjie water by indien nodig.
  5. Roer die lensies deur en geur met sout en peper.
  6. Prut vir 3-4 minute.
  7. Roer die room en koljander by net voor opdiening.

Komkommer-en-kruisement-raita

  1. Dreineer die gerasperde komkommer goed in ’n vergiettes en druk dit dan droog met kombuispapier.
  2. Plaas dit in ’n klein mengbak en meng die oorblywende bestanddele by.

Skep die lensies op ’n dienbord en rangskik die gebraaide visfilette bo-op. Garneer met koljanderblare en sit saam met komkommer-en-kruisement-raita.

Bron: Gunsteling braairesepte

Uitgewer: Lapa-uitgewers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.