Soorte resepte:

Resep: Paella

Paella (Foto: Lapa-uitgewers)

Dié geurige dis sal jou gaste behoorlik beïndruk.

Bestanddele:

Seekos, hoender en chorizo

  • 3 e (45 ml) olyfolie
  • 1 kg hoenderporsies, met vel
  • sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
  • 1 kg rou kreefsterte, met dop, in ringe gesny
  • 250-300 g chorizo-wors (of enige ander gerookte wors)
  • 12 swartmossels, goed skoongeskrop, gewas en baarde verwyder
  • 6 groot garnale, koppe en doppe verwyder (behou stertvin)

Sofrito

  • 3 e ( 45 ml) olyfolie
  • 70 g ontbeende maer varkvleis in 1 cm-blokkies gesny
  • 4 e (60 ml) gekapte uie
  • 2 knoffelhuisies, gekap
  • 1 groot tamatie, geskil, ontpit en fyngekap
  • 1 groen of rooi soetrissie, pitte verwyder en in repe gesny
  • 775 g langkorrelrys
  • 1,5 l kookwater
  • ¼ t (1,5 ml) fyn saffraan of ʼn paar draadjies saffraan
  • 1 t (5 ml) sout (of na smaak)
  • 90 g vars ertjies (of bevrore ertjies reeds ontdooi)

Metode:

Seekos, hoender en chorizo

  1. Verhit die olie in ʼn groot swaarboompan.
  2. Droog die hoender goed af, geur na smaak en braai velkant eerste tot mooi bruin. LW: Braai dit stadig sodat dit nie brand nie. Verwyder die hoender en hou dit eenkant.
  3. Braai die seekos stadig in dieselfde pan – draai die kreef om tot dit van kleur verander. Verwyder uit die pan en hou eenkant.
  4. Prik die wors, plaas in ʼn kastrol vol water en verhit tot kookpunt. Prut vir 5 minute, skep die wors uit en laat afkoel. Sny die wors in skyfies en laat dit droog word. Braai die wors in dieselfde pan tot bruin en skep uit. Giet die oortollige olie uit die pan en behou die pan net soos dit is – dit is baie belangrik.

Sofrito

  1. Verhit die olyfolie tot baie warm en braai die varkvleis vinnig tot bruin.
  2. Voeg die uie, knoffel, tamatie en soetrissie by. Braai dit vinnig en roer gedurig tot die vloeistof weggekook het en die mengsel vorm behou as dit in ʼn lepel geskep word. Verwyder van die hitte en hou eenkant.

Samevoeging van paella

  1. Voorverhit die oond tot 200 °C.
  2. Giet die sofrito in die paellapan of oondvaste skottel, gevolg deur die rys. Voeg die kookwater by en geur met saffraan en sout.
  3. Stryk die rys en sofrito met ʼn houtlepel plat. Rangskik die seekos, hoender en chorizo bo-op die sofrito en rys.
  4. Strooi die ertjies oor en plaas die pan of skottel onbedek op die bodem van die oond. Bak vir 25-30 minute tot die rys al die vloeistof geabsorbeer het. Moet nooit die paella roer nie. Verwyder uit die oond, bedek met ʼn skoon kombuisdoek of foelie en laat dit vir 10 minute rus. Garneer met suurlemoenskyfies en dien direk uit die pan op.

Wenke

  1. Gebruik ʼn 35 cm-paellapan of gewone 35 cm-pan wat omtrent 7,5 cm diep is.
  2. Paella word tradisioneel met houtlepels geëet.
  3. Dis van groot belang om die oorspronklike pan se smake te behou vir die maak van die sofrito.

Bron: Koljander, koljander so deur die Bosch

Uitgewers: Lapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Casper Labuschagne ·

Klink heerlik, maar met watter soort lisensie om kreef te vang, en boonop waar, gaan ek 1kg rou kreefsterte bymekaar maak?

Paul ·

Dis nie ‘n paella-resep nie. Die Spanjaarde noem hierdie soort gereg “arroz con cosas”. Dit beteken “rys met goeters daarby”.

Die ware paella uit Valencia kry groen groente, tamatie, bone, saffraan en hoendervleis, met eend, haas en slakke opsioneel. Die ander Spaanse paella is die seekos-paella wat beter bekend is buite Spanje. Daar is ook die gemengde paella, maar dit kry NOOIT chorizo in as ‘n bestanddeel nie.

Moenie die chorizo insit nie, en hierdie dis kan wel deurgaan as ‘n gemengde paella. Met die chorizo is dit egter net “rys met goeters daarby”.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.