Soorte resepte:

Jou spyskaart vir die eindstryd

Die Springbokke speel vandag in die Wêreldbeker-eindstryd, so die laaste ding waaroor jy jou moet bekommer, is wat jou mense gaan eet. Daarom het sjef Vaatjie van Toks ʼn Tjops vir jou ʼn hele spyskaart opgestel vir die groot dag – van die braai tot by die slaai!

Vinnige piesangslaai

Bestanddele

  • 5 ryp maar ferm piesangs
  • 5 droë appelkose, gesnipper
  • 125 ml grenadellajogurt
  • 37 ml kondensmelk

Metode

  1. Sny die piesangs in skyfies in ʼn slaaibak. Voeg die gesnipperde appelkose by. Meng die jogurt en kondensmelk en voeg by die vrugte.
  2. Meng liggies met ʼn vurk.

Variasie: Voeg ook avokadoblokkies by die piesangslaai.

 

Paptert

Bestanddele

PAP

  • 1 liter water
  • 10 ml sout
  • 625 ml mieliemeel
  • 30 ml botter
  • 250 ml pecorinokaas, gerasper

VULSEL

  • 15 ml botter
  • 250 g strepiespek, fyngemaak
  • 250 g sampioene, gesny
  • 1 ui, fyngekap
  • 2 blikkies (400 g elk) gekapte tamaties
  • sout en varsgemaalde swartpeper
  • 250 ml room
  • 250 g cheddarkaas, gerasper
  • sowat 10 vars basielkruidblare, geskeer

Metode

  1. Kook water en sout saam. Meng die mieliemeel met ʼn bietjie water tot ʼn gladde pasta vorm. Voeg die pasta by die soutwater en roer om klonte te voorkom.
  2. Verlaag die hitte en bedek die pot. Laat die pap staan vir sowat 10 minute. Roer die botter en kaas deur.
  3. Berei die braai voor by 180 °C. Smelt die botter intussen in ʼn pan en braai spek, sampioene en uie saam. Voer ʼn oondbak van sowat 30 x 20 cm met botter uit.
  4. Sit die helfte van die pap aan die onderkant van die oondbak en skep dan die spekmengsel daarin. Smeer een blikkie tamaties bo-op en geur met sout en peper. Bedek met die res van die pap. Die laaste blikkie tamaties kan bo-op gesmeer word, en daarna room en cheddarkaas.
  5. Bak vir 30-40 minute.
  6. Garneer met vars basielkruid en sit warm voor.

 

Liebie se tweekaas-knoffel-paninibrood

Bestanddele

  • 40 ml knoffelbotter
  • 150 g camembertkaas, gesny
  • 2 sprietuitjies, gekap
  • 150 g goudakaas
  • 4 paninirolle
  • 4 blokkies foelie

Metode

  1. Sny die paninirolletjies middeldeur en smeer weerskante met knoffelbotter.
  2. Plaas een laag camembertkaas op die een kant, gevolg deur ʼn laag goudakaas en sprietuitjies.
  3. Plaas die ander helfte van die brood bo-op en draai die rolletjie toe in foelie.
  4. Herhaal die proses vir die res.
  5. Braai oor medium-lae hitte vir 10-15 minute.

 

Lamstjops met kruie-knoffelbottersous

Bestanddele

KNOFFELBOTTERSOUS

  • 250 g sagte botter
  • 2 knoffelhuisies (gekneus)
  • 15 ml gemengde droë kruie
  • 30 ml suurlemoensap

VLEIS

  • 45 ml olyfolie
  • 20 ml suurlemoensap
  • sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
  • 12 lamslendetjops

Metode

  1. Plaas botter, knoffel, kruie en sap in ʼn voedselverwerker en meng goed. Skep bottermengsel op bakpapier van sowat 25 cm in lengte en 4 cm in breedte. Rol op sodat ʼn rol vorm en plaas in vrieskas of yskas tot gereed vir gebruik.
  2. Meng olyfolie, sap, sout en peper in bakkie en verf mengsel oor die tjops. Rooster tjops op kole na gelang van smaak wat gaarheid betref. Verhit kruiebottersous stadig tot warm maar nie kokend nie. Gooi oor tjops net voor opdiening.

 

Boerewors-lollipop-skewers

Bestanddele

  • 1 kg boerewors
  • 4 sosatiestokkies
  • 200 ml Jimmy’s-sous
  • 1 hand vol vars koljander, gekap

Metode

  1. Berei ʼn vuur voor.
  2. Laat die sosatiestokkies vir 30 minute in water week (dit voorkom dat hulle brand).
  3. Sny die boerewors in 10 cm lange stukkies en ryg dit in ʼn S-vorm op die sosatiestokkies. Sit dit in ʼn bak en gooi Jimmy’s-sous oor, marineer vir 1 uur.
  4. Braai die boerewors-sosaties tot mooi bruin.
  5. Vir opdiening, plaas die sosaties op ʼn opdienbord en sprinkel gekapte koljander oor en sit met doopsous voor.

 

Gorgonzolakaas-plankiesteak

Bestanddele

  • 400 g rump-biefstuk
  • 50 g okkerneute
  • 1 hand vol vars pietersielie, gekap
  • 1 knoffelhuisie, gekap
  • 100 g gorgonzolakaas, grofgekap
  • 75 g botter, koud
  • seesout en swartpeper
  • olyfolie

Metode

  1. Maak die okkerneute fyn en voeg die pietersielie, peper en knoffel by.
  2. Voeg stukke van die gorgonzolakaas by en meng met ʼn paar blokkies botter om ʼn stywe pasta te vorm. Die pasta moet dieselfde tekstuur as botter hê.
  3. Rol dit op en hou eenkant om op die biefstuk te gooi wanneer dit gaar is.
  4. Om die biefstuk gaar te maak, geur dit met sout en peper en vryf dit met bietjie olie. Plaas dit in ʼn Weber om te braai.
  5. Maak dit tot medium-rou gaar (of soos jy verkies) en dien met vooraf gemaakte botter op.
  6. Wanneer die biefstuk gerus het, sny dit in dun repies en sit voor op ʼn plankie.

 

Taai BBQ-hoendervlerkies

Bestanddele

  • 400 g groot hoendervlerkies
  • 1 t varsgemaalde sout
  • ½ t varsgemaalde swartpeper
  • 1 t hoenderspeserye
  • 6 e BBQ-sous

Metode

  1. In ʼn klein bakkie, meng die sout, peper en hoenderspeserye. Druk die hoendervlerkies droog en plaas hulle op ʼn pan. Sprinkel die soutmengsel daaroor en vryf dit in albei kante met jou vingers in. Sit dit onbedek in die yskas om vir 4 uur uit te droog.
  2. Berei die braaier vir medium hitte.
  3. Braai die vlerkies vir sowat 15-20 minute oor direkte hitte, met die deksel op tot die vel bruin is, en draai dit een of twee keer. Maak die vlerkies nou vir ʼn verdere 15-20 minute gaar oor direkte hitte, smeer met BBQ-sous en braai met die deksel op, totdat die vleis nie meer pienk is nie en die vel om die been krakerig begin raak. Draai dit af en toe en smeer gereeld met sous.
  4. Haal van braai af en sit voor by kamertemperatuur.

Toks ʼn Tjops word Vrydae om 20:00 uitgesaai, met ʼn herhaling Saterdagoggende om 06:30. Dis op kykNET, DStv-kanaal 144.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Wikus ·

Ag nee wat, sommer net gewone braaibroodjies, boerewors en n paar tjoppies sal ook die ding doen!!!

Hennie ·

Wil weet of Maroela Media gee telling opdateer vir rugby asseblief? Sal bly wees.

Linda ·

Dankie Maroele vir n fantastiese spyskaart !!! Ons het n heerlike ete geniet !!! Nie dieselfde ou braaibroodjies of knoffel brood nie of n wors rol nie. Ons het julle spyskaart gevolg vir 25 mense wat hier bymekaar gekom het, en almal het gese die kos was heerlik !!! Dankie vir hierdie spyskaart !!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.