Soorte resepte:

Kosblik-idees: Hoenderboudjies en appel-en-kaneel-plaatkoekies

heleen-meyer-plaatkoekies-en-hoeder-1

JOYA®-appel-en-kaneel-plaatkoekies. Foto: Verskaf

Deur Heleen Meyer

ʼn Gesonde leefstyl is vir almal belangrik. Ek hou nie van die woord dieet nie, want dit ontlok so dikwels ʼn negatiewe gevoel by mense. Ek is ʼn ambassadeur vir ʼn gesonde leefstyl vir die hele gesin, selfs wanneer ʼn mens met vakansie is, al eet almal meer bederfkos.

Daarom probeer ek almal aanmoedig om ook daardie beginsels te volg wanneer kosblikke en padkos ingepak word. Dis regtig nie soveel moeite nie, sommer heelwat goedkoper en dikwels baie gesonder en lekkerder as wat jy by ʼn kafeteria, wegneemkos- of kitskosplek kan kry. Sorg vir ʼn goeie verskeidenheid kossoorte, in matige hoeveelhede en so vars en onverfynd moontlik. Dan is jy reeds op die regte spoor.

In die vakansie braai gesinne graag en dan is ʼn lekker, maklike marinade ideaal. Die hoenderporsies se marinade bestaan uit net ʼn paar bestanddele en is regtig geurig. Die beginsel om soveel moontlik self te maak, is juis van toepassing met hierdie marinade, want as dit tuisgemaak is, kan jy beheer wat daarin is. Minder suiker, sout en preserveermiddels maak dit reeds gesonder en die meestal vars, onverwerkte produkte verleen baie geur.

Nog ʼn bestanddeel wat beslis op my vakansie-koslys is, is eiers. Dis ʼn wonderlike bron van proteïen en het ook heelwat ander voedingselemente wat alles belangrik is vir ʼn gesonde leefstyl. Vir die vakansie kan jy letterlik van ontbyt tot iets vir aandete, peuselhappies en natuurlik gebak, daarmee voorberei. Die plaatkoekies is ook tuisgemaak en beslis die gesonder keuse, teenoor ʼn winkel-opsie.

Seisoensvrugte is geurig en maklik beskikbaar en ʼn lekker peusel- of energiehappie om in te pak. Om die plaatkoekies ʼn natuurlike soet smaak te gee, het ek kraakvars, soet JOYA®-appels grof gerasper en by die beslag ingeroer sodat geen bygevoegde suiker nodig is nie. Onthou om veral die porsies van ʼn soetigheid te beheer en nie te veel daarvan op ʼn keer te eet nie. Die plaatkoekies dien in dié geval sommer ook as die stysel vir die ete en hoewel koekmeel, wat meer verfynd is, gebruik word, help die vars appel om meer vesel by die happie in te sluit.

Kos wat vir ʼn piekniek of as padkos ingepak word, moet beslis nog aptytlik wees teen die tyd dat dit voorgesit word, anders is niemand lus daarvoor nie. Verpak dus iets soos die hoenderboudjies in ʼn stuk foelie. Die slaaibestanddele en vrugte is ideaal in aparte plastieksakkies en dit werk uitstekend om bestanddele ook apart te hou. Die plaatkoekies kan ook in ʼn groot stuk foelie toegedraai word, of verpak dit in ʼn stuk bakpapier. En onthou natlappies in ʼn piekniekmandjie of as jy vir padkos inpak, om taai vingers op die strand of op pad tjoef-tjaf uit te sorteer.

Hoenderboudjies

Resep aangepas uit Cooking from the heart 1
Lewer 4 – 6 porsies

Bestanddele:

  • 15 ml (1 e) olyf- of avokado-olie
  • swartpeper na smaak
  • 15 ml (1 e) tamatiepasta
  • 15 ml (1 e) paprika
  • 30 ml (2 e) suurlemoensap
  • 2,5 ml (½ t) sout
  • 1 kg hoenderporsies, soos boudjies
  • 125 ml (½ k) water of rooibostee

Metode:

  1. Voorverhit die oond tot 180 °C.
  2. Meng die olie met die geurmiddels en smeer oor die hoender. Plaas in ʼn groot oondbak.
  3. Giet die vloeistof rondom die hoender in die oondbak. Bedek met foelie en rooster vir 20 minute. Haal die foelie af en rooster nog 10-15 minute of tot goudbruin en gaar.
  4. Sit voor as aandete met ʼn groenslaai of maak genoeg en pak dit in ʼn kosblik met individuele slaaibestanddele.

JOYA®-appel-en-kaneel-plaatkoekies

Lewer 24 – 30 plaatkoekies

Bestanddele:

  • 280 g (500 ml) koekmeel
  • 15 ml (1 e) bakpoeier
  • 2 ml sout
  • 10 ml (2 t) gemaalde kaneel
  • 2 Nulaid ekstragroot eiers
  • 500 ml (2 k) karringmelk
  • 2 JOYA®-appels, met die skil aan, grof gerasper
  • 60 ml (¼ k) botter, gesmelt
  • sonneblom-of avokado-olie vir braai

Metode:

  1. Sif die droë bestanddele saam in ʼn mengbak. Klits die eiers en karringmelk saam en maak ʼn holte in die middel van die meelmengsel.
  2. Klits die eiermengsel by die meel tot ʼn gladde beslag vorm. Roer die appel by. Wees versigtig om dit nie te veel te meng nie, want dit kan die plaatkoekies swaar maak. Roer die botter goed deur.
  3. Verhit ʼn dun lagie olie oor matige hitte in ʼn braaipan. Skep 30-50 ml deeg per plaatkoekie in die pan, na gelang van hoe groot dit moet wees.
  4. Braai tot lugborrels bo-op vorm en draai versigtig met ʼn eierspaan om. Braai net ʼn paar minute tot gaar en goudbruin aan die ander kant. Hou die plaatkoekies warm, terwyl die res gebak word. Voeg nog olie in die pan by soos nodig, maar moenie dit te warm maak nie, anders brand die plaatkoekies voordat dit gaar is.
  5. Sit voor met maaskaas, gegeur met heuning en kaneel en nog appelskyfies, indien verkies.

Besoek Heleen se Facebook-blad of webwerf vir meer besonderhede.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Johan II ·

Dit is baie maklik: koop niks met die woord “Suiker” daarop nie, vermy Koring (gif) totaal, eet niks met die woord “lae” of “medium” vet nie (want dit is vol suiker) en eet verder alles wat jou hart begeer (gaan lees die voedsel revolusie boek).
Dis nie vet wat jou vet maak ni, dit is koring en die tonne suiker (en versoeters) in al ons lae-vet nutteloose “kos”. Prof. Tim het al meer lewens gered as enige ander dieetkundige. Om te dink ek het my lewe lank met gewig, bloedsuiker en cholesterol gesukkel en met n paar sinvolle wenke in die Prof. se boek los hy dit alles v my in <14maande op.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.