Hierdie kitsete is binne ’n halfuur gereed. Gebruik ’n baie groot pan, want anders ontstaan ’n klomp vloeistof en word die kos nie gou genoeg gaar nie.
Lewer 2 porsies
Bestanddele:
- 500 g aartappels, geskil
- 1 groot ui, in ringe gesny
- 50 ml sonneblomolie
- 50 g (14 heel) gevulde olywe, gehalveer
- 100 g salami of ander gerookte wors, in dun skyfies gesny
- knippie droë salie
- sout en peper na smaak
- 50 g feta- of krummelmaaskaas
- vars kruie (opsioneel)
Metode:
- Sny die aartappels in dun skywe. Druk droog met kombuispapier.
- Braai die aartappels en ui in die warm olie tot goudbruin.
- Voeg die olywe, salami, salie, sout en peper by en braai ’n paar minute lank tot die salami warm is.
- Voeg die kaas by net voor dit voorgesit word en strooi vars kruie bo-oor indien beskikbaar.
Bron: Wenresepte 1
Uitgewer: Human & Rousseau