Soorte resepte:

Resep: Afval op die tafel

Foto: Woestynkombuis

Foto: Woestynkombuis

Afval is so eg Suidwes soos kan kom. As kind was dit absolute fynkos en afval is selfs met groot trots vir Kersete bedien. Ek was altyd gefassineer deur die bediendes wat ure sit en afval skoon skraap en hoe die pens, pootjies en hele gedoente dan vir ure op die koolstoof gekook is totdat dit van die been af val.

My gunsteling was die skaaptongetjie en wangetjies, maar my sus het baklei vir die oë. My ma het altyd die harsings in die kleinpensie toegebind sodat dit saam met die oë, pens, tong en pootjies in die afvalpot kan prut. Die een op wie se bord dit beland het, was baie gelukkig. Dit was murgsag en het soos botter in jou mond gesmelt!

Om die pens sag te kry, word dit eers vir ‘n halfuur tot ‘n uur lank in ‘n pot gekook (hierdie proses word afwater genoem). Daarna word dit saam met die res van die afval stadig gekook vir ongeveer 5 tot 6 uur. Hier volg ‘n paar heerlike stap-vir-stap-resepte wat die proses duidelik uiteensit vir die beginner-kokke wat ‘n kans wil waag.

Die bees- en skaappote word baie fyn gekook totdat die sagte vleisies van die been af val. Daarby word sout, peper, naeltjies en lourierblare gegooi en dan word dit gemaal. Dit word dan in ‘n bak gegooi sodat dit kan stol, waarna dit in stukke gesny en as sult voorgesit word. Sult is ook ‘n groot bederf en kan alleen voorgesit word as ʼn versnapering saam met souttert en ander happies.

Genoeg vir 8 tot 10 mense

Bestanddele:

  • 1 beestong
  • 1 e asyn
  • 1 skaapafval
  • 3 1/2 e witwyn
  • sout en peper na smaak
  • 1 groot ui, dun gesny
  • 2 groot aartappels, in dun skyfies gesny
  • 4 wortels, dun gesny
  • 1 1/2 e kerriepoeier
  • 1 1/2 e borrie
  • 3 1/2 e suiker
  • 3 1/2 e witwynasyn

 Metode:

  1. Kook die tong vir ‘n uur in water met ‘n eetlepel asyn.
  2. Sodra die tong afgekoel het, trek die vel versigtig af en sny dit in skywe.
  3. Was die skaappens en -pootjies deeglik.
  4. Sny die pens in stukkies van 25 mm.
  5. Voeg die water by (net genoeg om die pens te bedek) en kook oornag in ‘n prutpot oor lae hitte.
  6. Voeg die pootjies, wyn, sout en peper die volgende oggend by.
  7. Prut stadig vir sowat 6 ure in ‘n prutpot totdat die pens en pootjies sag en gelatienagtig is.
  8. Voeg die uie, aartappels en wortels 1 uur voordat die 6 ure verstreke is by die afval.
  9. Meng die kerriepoeier, borrie, suiker, sout en asyn saam en voeg by die afval.
  10. Prut vir ‘n verdere 40 tot 45 minute.
  11. Voeg die tong by die afval en dien op.

Bron: Woestyn Kombuis saamgestel deur Louise van der Hoven
Uitgewer: Fox and Raven home

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

joppie de beer ·

Ek sal spreekwoordelik my ma slaan so lus het ek nou vir ‘n afvaltjie. Klink heerlik!

HEVW ·

Wat baie lekker is,is so n 6 of meer skaapstertjies saam met hierdie lekker resep om dit so van die beentjies af te suig. Dit het n kompeterende efek so rondom die tafel.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.