Soorte resepte:

Resep: Beesfilet met geroosterde knoffelroom en beet-en-lemoen-slaai

Foto: Jou beste lewe

Foto: Jou beste lewe

Beet kan nie “beet-er” vir jou wees nie. Jou smaakknoppies kan dit dalk haat, maar jou are sal mal wees daaroor omdat dit so hoog is in nitrate (wat in nitriete omgeskakel word deur die bakterieë in jou mond). Nitriete help jou are vergroot, wat bloedvloei en suurstofopname verbeter. Om hierdie rede word beet beskou as een van die antwoorde op medikasievrye behandeling van bloeddruk. Boonop is dit propvol kalium, anti-oksidante en oplosbare vesel, wat alles saamwerk om hartkwale te bestry.

Bestanddele:

  • 500 g vryloop-beesfilet, al die senings afgesny
  • 1 t varsgemaalde sout
  • 1 t varsgemaalde peper
  • 3 of 4 knoffelhuisies
  • 50 ml olyfolie
  • 250 ml room
  • 2 e gekapte grasuie

Vir die slaai

  • 30  wilderoket
  • 2 lemoene, geskil en gesny
  • 100 g klaar voorbereide beet, geskil en in kwarte gesny
  • 50 g feta
  • 20 g uiespruite
  • 2 e gekapte vars kruisement

Vir die slaaisous

  • 2 lemoene se sap
  • 25 ml rysasyn
  • 50 ml olyfolie
  • varsgemaalde sout en peper

Metode:

  1. Voorverhit die oond tot 200 °C.
  2. Verhit ʼn groot pan, gooi olyfolie oor die filet en geur met sout en peper.
  3. Braai die filet bruin aan al die kante en plaas in die oond vir nog 20 minute of tot dit so gaar is soos jy daarvan hou.
  4. Terwyl die filet in die oond is, braai die knoffelhuisies in ʼn klein pannetjie met 50 ml olyfolie tot dit goudbruin is.
  5. Kook die room in ʼn ander klein kastrolletjie af tot dit met die helfte verminder het. As dit wil oorkook, klits dit net effens. Voeg die knoffelhuisies by die room terwyl dit afkook. Voeg die grasuie by die room.

Vir die slaaisous:

  1. Meng die lemoensap, asyn en olyfolie in ʼn klein bakkie en geur met sout en peper.

Vir die slaai:

  1. Pak die roket uit op ʼn mooi opdienbord, gevolg deur die lemoene, beet, gekrummelde feta, slaaisous, uiespruite en kruisement.
  2. Haal die filet uit die oond en wag ʼn paar minute voordat jy dit opsny. Bedien die knoffelroomsous oor die gesnyde beesfilet.

Bron: Jou beste lewe – Vinnige en gesonde gesinsetes
Uitgewer: CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Eliza-beth ·

Ai ek hou van beet en die smaak en alles, maar kook, die doen ek nie, wat ‘n gemors, alles is pienk; kastrol alles. Dankie tog vir Woolies se klaar bereides stukkies, wel duur, maar ek betaal met ‘n glimlag. Hierdie klink vreklekker maar ek is lui deesdae, enigiets met meer as so 3-4 bestanddele doen ek nie.

Gerhard ·

Net toe ek myself min of meer oortuig het om die vegetariese roete te begin loop, kom hierdie resep op my pad. Dit laat my goeie voornemens soos mis voor die son verdwyn. Ek wonder nou of my vleislus dieper gesetel is as wat ek vermoed.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.