’n Mens kan die hoender die vorige dag kant en klaar berei en ’n uur lank in die sous bak. Skep die hoender uit die sous, laat die hoender en sous afkoel en plaas dit dan in die yskas tot die volgende dag. Dis ’n feestelike maar besonder ekonomiese gereg.
Lewer 4-6 porsies
Bestanddele:
Blatjanghoender
- 1 groot hoender van sowat 1,7 kg
- sout en peper na smaak
- 1 pakkie (50 g) wit- of bruinuiesoppoeier
- 250 ml kookwater
- 250 ml vrugteblatjang
- 125 ml mayonnaise
Rysvulsel
- 1 hoenderlewertjie, fyngesny
- 1 klein ui, fyngekap
- 200 g (250 ml) gaar rys
- 30 g (125 ml) sagte witbroodkrummels
- 25 ml fyngekapte pietersielie
- 75 g (125 ml) pitlose rosyne
- 25 g (30 ml) botter of margarien, gesmelt
- sout en peper na smaak
Skyfaartappels
- 6-8 middelslagaartappels
- sout en peper na smaak
Metode:
- Voorverhit die oond tot 180 °C (350 ̊F).
- Maak die hoender goed skoon en sny die vetklier op die stuitjie uit. (Skroei die fyn haartjies aan die hoender oor ’n brandspiritusvlam af.) Was die hoender en droog dit af. Vryf dit binne en buite in met sout en peper.
- Meng die soppoeier en kookwater. Voeg die blatjang en mayonnaise by en meng. Giet die sous in ’n groot oondvaste bak met ’n deksel.
- Meng die hoenderlewertjie en ui met die rys, broodkrummels, pietersielie, rosyne, botter of margarien en sout en peper.
- Plaas die hoender op sy rug en skep die helfte van die rysvulsel in die liggaamsholte. Steek die opening met ʼn peuselstokkie vas en bind die bene met ’n stukkie tou aan die stuitjie vas.
- Skep die res van die rysvulsel in die nekholte en vou die nekvel daaroor toe. Steek dit aan die rug met peuselstokkies vas. (Moenie te styf toevou nie, want as die vulsel nie genoeg ruimte het om uit te sit nie, word dit kluitjierig.)
- Plaas die vlerke langs die lyf en bind dit met ’n stuk tou om die lyf vas. Plaas die hoender op sy rug in die blatjangsous en skep van die sous oor tot die hoender daarmee bedek is. Sit die deksel op en bak dit 1 uur lank. Bedruip die hoender af en toe met van die blatjangsous waarin dit bak.
- Giet die meeste van die sous ná 1 uur in ’n afsonderlike oondvaste bak af en plaas die aartappels hierin. Was die aartappels silwerskoon af, maar moenie hulle skil nie. Sny elke aartappel in 1 cm-skywe, maar moenie die skywe deursny tot onder nie; die aartappel moet aan die onderkant heel bly. Trek die skywe effens uitmekaar en strooi ’n bietjie sout en peper tussenin.
- Bak die hoender nog 1 uur lank sonder ’n deksel. Bak terselfdertyd ook die aartappels 1 uur lank sonder ʼn deksel. Bedruip die hoender en aartappels gereeld met van die blatjangsous.
- Giet die sous in ’n souspot. Sit die hoender warm voor saam met die sous.
Bron: Wenresepte 2
Uitgewer: Human & Rousseau