Soorte resepte:

[Resep] Bobotie

bobotie

Heerlike Bobotie. Foto: Carmen se beste resepte

Bobotie bly altyd ’n gunsteling. Ek hou daarvan om vir elkeen sy eie bobotie te maak en het selfs al die bakkies met druiweblare uitgevoer vir die mooi. Pleks van rys, sit ek dit met patatpuree voor. Enige soetigheid gaan ook goed saam met bobotie. Sny steenvrugte soos pruime of perskes in skywe, strooi ’n bietjie suiker oor en bak in die oond tot effe gekaramelliseer.

Bestanddele:

Bobotie

  • 3-4 uie, gekap
  • 30 ml (2 e) knoffel-en-gemmerpasta
  • olie vir braai
  • 30-45 ml (2-3 e) geroosterde masala- of kerriepoeier
  • 5 ml (1 t) fyn komyn
  • 10 ml (2 t) borrie
  • 15-30 ml (1-2 e) suurlemoensap
  • 1 kg ekstramaer beesmaalvleis (of helfte volstruis- of wildsmaalvleis)
  • 20-30 ml (4-6 t) fyn appelkooskonfyt
  • 1 groot groen appel, gerasper
  • 125 ml (1 k) of minder gekapte Turkse appelkosies en rosyntjies of sultanas
  • 2 snye brood, in water geweek en fyngedruk
  • sout en peper na smaak

Eiervla

  • 375 ml (1½ k) melk of natuurlike jogurt of klappermelk
  • 3 eiers
  • sout en swartpeper
  • lourierblare of suurlemoenskil

Metode:

Voorverhit die oond tot 180  ̊C. Smeer ’n groot oondbak of individuele bakkies.

Bobotie

1. Soteer die ui en knoffel-en-gemmerpasta in ’n bietjie olie tot sag. Roer die speserye en suurlemoensap by.
2. Skep uit in ’n bak en meng die maalvleis by.
3. Roer die res van die bestanddele by en meng liggies. Skep in die voorbereide bak of bakkies.

Eiervla

4. Meng al die bestanddele en giet oor die vleismengsel.
5. Druk die lourierblare of suurlemoenskil in die vleismengsel en bak 20-30 minute tot die eiervla gestol is.
6. Sit voor met patatpuree, gebakte vrugte of gestoofde droëvrugte en sambals.

Bron: Carmen se beste resepte
Uitgewer: Human & Rousseau

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Dawie ·

@MM. Dom vraag maar moet die maalvleis ook nie geroerbraai word nadat die ui mengsel en ander bestanddele bygevoeg is nie.

Andre ·

Ek wil dit ook weet.
20min in die oond op 180 grade klink bietjie rou jong…

Sune van Heerden ·

Dagsê Dawie

Ons het die resep hier gepubliseer presies soos dit oorspronklik in die boek, “Carmen se beste resepte”, gepubliseer is. Die oorspronklike resep dui ongelukkig nie aan of die vleis eers gebraai moet word nie. Julle is welkom om ook hierdie bobotieresep te probeer: http://maroelamedia.co.za/resepte/groentegeregte/bobotie/

Geniet!
Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Dawie ·

Dankie Suné. ‘n Resep is maar gewoonlik iets wat ‘n mens meer gebruik as ‘n riglyn as om dit slaafs na te volg maar daar is mense wat nie baie ondervinding het nie en dan hoort die resepte sonder foute te wees. Ek het dit al in talle resepte opgelet dat die oorspronklike redigering nie na wense is nie. ;-)

Estelle ·

Ek wou graag hierdie heerlike bobotie resep print, maar daar is glad nie so `n opsie nie.

Groete
Estelle

Sune van Heerden ·

Dagsê Estelle

Ons moes ongelukkig die funksie wat mens toelaat om teks op die webwerf te kopieer of dat iemand kan regsklik en dan die dokument te kan uitdruk, deaktiveer, aangesien sommige webwerwe ons inligting onregmatig gebruik het.

Maak gerus óf ʼn skermskoot óf klik regs bo op jou webblaaier (“browser”) op die knoppie wat soos drie horisontale lyntjies lyk (op Chrome en Firefox) of ʼn sirkelvormige ratjie (Internet Explorer). Dit maak verdere opsies oop en daar kan jy dan klik “print”. As jy nie ʼn drukker het nie, kan jy die dokument dalk in ʼn .pdf-formaat (elektronies) druk – dan kan jy makliker daarmee werk.

Ek hoop jy kuier nog sommer baie lekker verder op Maroela!
Groetnis
Suné
nms Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.