Soorte resepte:

[Resep] Bobotie-frikkadelle

Foto: Verskaf

Bobotie-frikkadelle is so maklik om te maak, veral as jy lus is vir bobotie, maar nie tyd het om ‘n hele gereg voor te berei nie. Gebruik net dieselfde geurmiddels in ‘n frikkadelmengsel en siedaar! Dis ‘n heerlike aandete, maar maak beslis genoeg om in jou gesin se kosblikke te pak en onthou, dit vries uitstekend.

Dan is daar ook ’n resep vir ’n geroosterde neute- en sademengsel wat baie veelsydig is. Dit kan ’n peuselhappie wees of met ongegeurde jogurt en vars appel geniet word. Dis ’n lekker ontbyt vir mense wat nie vroegoggend al wil of kan eet nie. Of sit dit sommer as ‘n geurige nagereg voor, want die kombinasie van soeter speserye, vars appel en die jogurt is altyd heerlik. Dit kan ook in groter hoeveelhede gemaak en in ‘n lugdigte houer gebêre word.

Bobotie is beslis een van daardie eg Suid-Afrikaanse geregte en iets wat baie mense uit hul kinderdae onthou. Hier is dieselfde geure nou op ‘n nuwe manier voorgesit.

Geroosterde neute- en sademengsel

  • Resep aangepas uit Cooking from the heart 2
  • Lewer 6 porsies

 Bestanddele:

  • 200 g rou, ongesoute neute en sade, bv. amandels, makadamia, pampoen- en sonneblomsaad
  • 1 e (15 ml) olyf- of avokado-olie
  • 1 t (5 ml) gemaalde kaneel
  • ½ t (2,5 ml) gemaalde gemengde speserye
  • ’n knippie neutmuskaat

 Metode:

  1. Voorverhit die oond tot 180 °C en voer ’n bakplaat met bakpapier uit.
  2. Plaas al die bestanddele in ’n mengbak en roer tot goed gemeng.
  3. Plaas neutemengsel op bakplaat en rooster vir 10 tot 15 minutes of tot liggies goudbruin. Meng neute een of twee keer gedurende dié tyd deur. Hou dop dat die neute nie brand nie.
  4. Laat heeltemal afkoel en sit ongeveer ⅓ k (80 ml) per persoon voor as ‘n peuselhappie. Of sit met ongegeurde jogurt en JAZZ-appels, in blokkies gesny, vir ontbyt, nagereg of as peuselhappie voor.

Bobotie-frikkadelle

  • Resep aangepas uit Kos is op die tafel!
  • Lewer 4 tot 6 porsies

Bestanddele:

  • 500 g maer beesmaalvleis
  • 2 knoffelhuisies, gekneus
  • 1 klein ui, fyngekap of gerasper
  • 1 groot Nulaid-eier
  • 10 ml (2 t) kerriepoeier
  • 10 ml (2 t) gemaalde koljander
  • 10 ml (2 t) gedroogde gemengde kruie
  • 5 ml (1 t) gemaalde komyn
  • 5 ml (1 t) suurlemoensap
  • 10 ml (2 t) appelkooskonfyt of heuning
  • 30 ml (2 e) gekapte koljanderblare
  • sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
  • 20 ml olyfolie om in te braai

Metode:

  1. Plaas maalvleis in ’n groot mengbak en breek met ’n groot vurk uitmekaar. Voeg orige bestanddele, behalwe die olie, by en meng goed deur, gebruik sommer jou hande.
  2. Geur na smaak en rol in klein frikkadelletjies.
  3. Verhit intussen helfte van die olie oor matige hitte in ’n groot braaipan (’n AMC 24 cm Chef’s Pan werk uitstekend). Verbruin die frikkadelle in sarsies, aan beide kante tot goudbruin, maar nog nie gaar nie.
  4. Verlaag hitte en sit die deksel op. Prut frikkadelle 5 tot 8 minute of tot net gaar. Herhaal met orige frikkadelle. Sit as deel van ’n aandete voor of pak in ’n kosblik.

Kyk elke Maandagoggend na #Kosblik op Die Groot Ontbyt of besoek Heleen Meyer se webwerf of Facebook-blad vir nog maklike en gesonde kosblik-idees.

Koop Heleen Meyer se resepteboek Maak Vyf  in Die Koöperasie, Maroela Media se aanlynwinkel. Dit bevat eenvoudige en maklike resepte van bekende bestanddele wat elk op vyf verskillende maniere gebruik word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.