Soorte resepte:

Resep: Bobotieburgers

Foto: Japtrap Braai

Foto: Japtrap Braai

’n Tradisionele Suid-Afrikaanse gereg heeltemal op sy kop gedraai om dit in ’n burger te verander!

Gasbraai

Ketelbraai direk

Vuur van hout of houtskool

Lewer 12

Bestanddele:

  • 1 dik sny witbrood, korsies afgesny
  • 250 ml (1 k) melk
  • 30 ml (2 e) olyfolie
  • 1 groot ui, fyngekap
  • 30 ml (2 e) kerriepoeier
  • 1 kg beesmaalvleis
  • sout en varsgemaalde swartpeper
  • 10 gedroogde appelkose, in kookwater geweek vir 30 minute
  • 1 ekstragroot eier
  • gerasperde skil en sap van 1 suurlemoen

Metode:

  1. Week die brood in die melk.
  2. Verhit die olie en soteer die ui daarin tot sag. Voeg die kerriepoeier by en braai verder tot geurig. Verwyder van die hitte.
  3. Plaas die maalvleis in ’n groot mengbak. Meng die ui-en-kerriemengsel daarby in. Geur deeglik met sout en peper. Druk die melk uit die brood met jou hande – behou die melk. Voeg die sagte brood by die maalvleis. Meng deur.
  4. Haal die appelkose uit die water en kap fyn. Voeg dit by die maalvleis. Meng die eier by die behoue melk in en voeg saam met die suurlemoenskil en -sap by die vleismengsel. Meng deur.
  5. Maak jou hande nat en vorm dan 12 burgerpatties uit die maalvleis. Plaas dit op ’n bakplaat en sit dit in die yskas vir sowat 30 minute voordat jy dit braai. Spuit die braairooster met kleefwerende kossproei en braai die patties vir 8-10 minute aan die een kant. Draai dit om en braai vir nog 7 minute aan die ander kant.
  6. Sit voor op broodrolletjies saam met gebraaide uie, skywe tamatie en Mrs Ball’s-blatjang bo-op die burgerpatties.

Bron: Japtrap Braai
Uitgewer: Random House Struik

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Marieta Bodenstein ·

Ek sou graag die resep met foto en al in my resepte-lêer wou sit.
Maar daar is nie n funksie om dit te mag druk nie?
Ook kan mens dit met ‘spoeg-en-plak’ na n word dokument oordra nie?
Hoe gemaak as ek graag die resep wil behou? Is die enigste manier regtig om dit
van die skerm af met die hand oor te skryf? Help seblief, dankie!

Adéle Changuion ·

Dagsê Marieta,

Ons moes ongelukkig die funksie wat mens toelaat om teks op die webwerf te kopieer of dat iemand kan regsklik en dan die dokument te kan uitdruk, deaktiveer, aangesien sommige webwerwe ons inligting onregmatig gebruik het.
Maak gerus óf ʼn skermskoot óf klik regs bo op jou webblaaier (“browser”) op die knoppie wat soos drie horisontale lyntjies lyk (op Chrome en Firefox) of ʼn sirkelvormige ratjie (Internet Explorer). Dit maak verdere opsies oop en daar kan jy dan klik “print”. As jy nie ʼn drukker het nie, kan jy die dokument dalk in ʼn .pdf-formaat (elektronies) druk – dan kan jy makliker daarmee werk.

Groetnis
Adéle
nms Maroela Media

Jenny Thom ·

Marieta
Ek stuur die epos aan my persoonlike eposadres en bere dit dan in my resepte leer.
Dit werk goed.
Jenny

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.