Soorte resepte:

[Resep] Botterskorsiesop met hoenderfrikkadelle

Sop

Botterskorsiesop met hoenderfrikkadelle Foto: Jou beste lewe

Sop met ’n bietjie meer skop as die gewone ou botterskorsiesop.

Lewer 5 porsies

Bestanddele:

Sop

  • 1 ui, gekap
  • 1 e garam masala
  • 1 e gemmer, fyngerasper
  • 2 e olyfolie
  • 2 wortels, geskil en gesny
  • 1 kg botterskorsie, geskil en in blokkies gesny
  • 1 Liter hoenderaftreksel
  • 1 blikkie klappermelk

Frikkadelle

  • 300 g hoendermaalvleis
  • ½ ui, fyngekap
  • 2 snye lae GI-brood, gerooster en in kleiner stukke gebreek
  • 2 eiers, geklits
  • 1 knoffelhuisie, fyngekap
  • 1 e sojasous met ’n lae soutinhoud
  • 1 e gekapte vars koljander
  • 2 e pruimsous
  • 750 ml hoenderaftreksel (of gebruik net soutwater)
  • varsgemaalde sout en peper na smaak
  • vars koljander vir garnering

Metode:

  1. Smoor die ui in ’n sopkastrol saam met die masala, gemmer en olyfolie oor matige hitte.
  2. Voeg die wortels en die botterskorsie by, kook vir 2 minute en voeg dan die aftreksel by.
  3. Kook tot die groente sag en gaar is. Bring die aftreksel tot kookpunt in ’n klein kastrol.
  4. Rol die maalvleismengsel in okkerneutgrootte balletjies en kook die frikkadelle in die aftreksel tot gaar. Haal die sop van die hitte af en verwerk tot glad.
  5. Voeg die klappermelk by en geur na smaak.
  6. Terwyl die sop kook, kan jy die frikkadelle maak. Meng die maalvleis met al die ander bestanddele behalwe die aftreksel.
  7. Sit die sop voor met 2-3 frikkadelle per porsie en garneer met vars koljander.

Wenk!

Het jy al ooit gewonder wat die gesonder keuse is – sop of toebroodjies? Stomende sop is elke keer ’n kortkop voor daai toebroodjie. Sop het ’n hoë waterinhoud en is propvol vesel wat help om jou versadig te laat voel en jou energie gee. Wanneer jy sop eet, skep jy, slurp, ruik en blaas jy koud – alles aksies wat jou stadiger laat eet en die genot van eet verhoog in plaas daarvan dat jy net jou kos inprop. Sop kan beskou word as ’n pruttende weergawe van slaai, wat die perfekte manier is om groente, wat soms maar vervelig kan wees, in ’n aantreklike aanbieding te verdoesel vir vol-fiemies-eters. Solank jy net nie jou sop saam met warm sjokolade en malvalekkers, die ander wintergunstelinge, geniet nie, is dit ʼn gesonde keuse om jou energievlakke én jou interne termostaat op te stoot!

Bron: Bottel en gebruik
Uitgewer: Lapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.