Lewer 6–8 porsies
Selfs iemand wat sy neus vir groente optrek, sal ’n tweede skeppie van hierdie sop vra.
Bestanddele
- 30 ml olyfolie
- 1 ui, gekap
- 1 prei, baie goed gewas en fyn gekerf
- 3 knoffelhuisies, fyn gekap
- 2 groot aartappels, geskil en in klein blokkies gesny
- 1 groot kop broccoli, fyn gesny
- 1,5 l hoenderaftreksel
- 250 ml volroommelk
- 2 wiele fetakaas, grof gekrummel
- sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
- neutmuskaat, om oor te rasper
- croutons en brosgebraaide varkworsies, om voor te sit (opsioneel)
Metode
- Verhit die olie en braai die ui, prei en knoffel stadig oor lae hitte tot sag, maar nie bruin nie.
- Voeg die aartappels, broccoli, hoenderaftreksel en melk by en verhit tot kookpunt. Prut vir sowat 45 minute, tot alles baie sag is. Laat effens afkoel en verpulp die sop.
- Roer die fetakaas by en geur na smaak met sout en peper.
- Rasper neutmuskaat oor elke porsie en rond af met croutons en stukkies brosgebraaide varkworsies, indien verkies.
Bron: Landbou Boerekos
Uitgewer: Human & Rousseau