Dié kerrie kan warmer gemaak word met brandrissies.
Bestanddele
- 400 g (1 blik) klappermelk
- 2 stukkies sitroengras of 3 suurlemoenblare
- 45 ml Thaise rooi kerriepasta
- 30 ml vissous (opsioneel)
- 30 ml sagte bruinsuiker
- 500 g kruisstuk (rump steak), in repies gesny
- 50 g grondboontjies, gekap
- 45 ml grondboontjiebotter
- 250 ml melk
- 2 sprietuie, gekap
- sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
- suurlemoensap na smaak
- ’n handvol vars basilieblare en ekstra sprietuie
Metode
- Giet die helfte van die klappermelk in ’n groot braaipan en verhit dit oor matige hitte tot kookpunt.
- Kneus die sitroengras liggies of sny die suurlemoenblare in breë repe. Roer dit saam met die kerriepasta, vissous en suiker by en prut tot aromaties. Roer gereeld.
- Voeg die orige klappermelk by en prut vir ’n paar minute.
- Roer die vleis, grondboontjies, grondboontjiebotter en melk by en prut dit vir 8-10 minute of tot die vleis net gaar is. Roer gereeld en moenie die sous te vinnig laat kook nie.
- Voeg die sprietuie by en geur met sout, peper en suurlemoensap. Garneer dit met basilie en sprietuie en sit dit met rysnoedels of aromatiese rys voor.
WENK: Vir ’n warmer kerrie kan meer kerriepasta gebruik word, of voeg 1 rooi brandrissie by. Plaas die heel brandrissie met kerriepasta in klappermelk en verwyder die rissie voor opdiening. Of ontpit en kap die brandrissie vir ’n nog warmer kerrie.
Bron: Spogresepte van die Suid-Afrikaanse Vroue-landbou-unie deur Heleen Meyer
Uitgewer: Lapa