Soorte resepte:

[Resep] Denningvleis

Foto: Lekker en Vinnig

Denningvleis. Foto: Lekker en Vinnig

Hierdie resep sal vleisliefhebbers opgewonde maak – en boonop is dit maklik ook!

Lewer 6 porsies

Bestanddele:

  • 15 ml olie
  • 2 knoffelhuisies, gekneus
  • 2 uie, in ringe gesny
  • 10 ml suiker
  • 1 kg skaapvleis-dunrib of -boud, in stukkies gesny
  • 4-6 kruienaeltjies
  • 4-6 wonderpeperkorrels
  • 2 lourierblare
  • sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
  • knippie vars fyngerasperde of fyn neutmuskaat
  • 250 ml kookwater
  • 20-30 ml tamaryn

Metode:

  1. Verhit die olie in ʼn swaarboomkastrol.
  2. Voeg die knoffel en uie daarby.
  3. Strooi die suiker oor en smoor dit tot die uie goudkleurig is.
  4. Skep dit uit en plaas die vleis in die kastrol. Braai tot dit begin verkleur.
  5. Voeg nou die kruienaeltjies, wonderpeperkorrels, lourierblare, sout, peper en neutmuskaat by die vleis en skep die uie en knoffel terug in die pot. Voeg 125 ml van die water by. Sit die deksel op en stowe die vleis tot sag. Dit neem ± 1-1½ uur.
  6. Week intussen die tamaryn in die orige 125 ml water. Syg deur ʼn fyn sif en voeg die water by die vleis. Laat weer ʼn rukkie stowe om die geure goed te laat meng.
  7. Sit dit voor met rys of gekookte aartappels.

Resep oorspronklik gepubliseer in Eet saam, GKSA.
Bron: Lekker en Vinnig – Tradisionele kos
Uitgewer: Lapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Hannelie ·

Elsabe ek ken dit ook glad nie. Het nou in verklarende woordeboek gekyk : ” Tropiese boom met harde, gelerige hout uit die vrug waarvan ‘n lakseermiddel gemaak word”. Behoort dit seker by die kruie en ander speserye te kry in winkels.

Wanda ·

Dit is pikswart, jy kry dit by chinese winkels en ook indieer winkels, word baie gebruik in indiese geregte. Dit is baie suur, alhoewel jy n soetsuur een ook kry, daar is pitte en stokkies in dis hoekom jy dit week en die aftreksel deur n sif gooi. Ek eet die suur een sommer so omrede dit vir my lekker is. Word amper soos dadels in blokke verpak.

Moo ·

Jy kry ook “tamarind paste” in die eksotiese kos rak van groot supermarkte, in ‘n klein fles of botteltjie. Ek wil die resep graag probeer en beplan sommer om ‘n eetlepel van die pasta met die voorgeskrewe water te verdun.

Maria Van Dieweeck ·

Klink heerlik. Weet iemand dalk waarom dit ‘denningvleis’ genoem word, of is dit maar net n naam?

Amber ·

Tamaryn bome groei in Zambia, Zimbabwe en Malawi. Dit dra n peul wat lyk soos n boontjie en het n bruin kleur. Breek jy daai ‘boontjie’ oop, is dit heerlik soet-suur. Ja, jy kan dit in n paste vorm koop by supermarkte.
Denning-vleis in die ou-dae is maar boud en ander vleis wat repies vorm terwyl dit gekook word.

Gerhard ·

Ek kon nog nooit die kloutjie by die oor kry as daar van denningvleis gepraat word nie. Nou het ek ook iets geleer. Valiant Swart sing van fynvleis in een van sy mooiste liedjies (Ek meen amper dis ‘n Duisend Maande). Is dit dalk dalk dieselfde ding?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.