Soorte resepte:

Resep: Die herder se pastei

Die herder se pastei (Foto: Lapa-uitgewers)

“Beesvleisstukke in plaas van maalvleis vir ʼn voller hap. Room vir dekadensie. Kapokblomkool vir keto,” skryf Armand Aucamp in sy resepteboek Armand kook kaal.
Lewer 6 porsies

Bestanddele

VULSEL

  • olyfolie
  • 800 g beesvleisblokkies
  • 1 rooi ui, grof gekap
  • 1 groot wortel, grof gekap
  • 2 selderystingels, gesny
  • ½ t knoffelpoeier
  • 1 t fyn koljander
  • 2 t fyn komyn
  • 1 pakkie wit knopiesampioene, grof gekap
  • ½ k water
  • 1 k droë rooiwyn
  • 1 e Worcestersous
  • 1 e droë basiliekruid
  • varsgemaalde sout en peper
  • 2 murgpampoentjies, in 1 cm-skywe gesny
  • ½ k room

KAPOKBLOMBOLAAG

  • 1 blomkoolkop
  • 2 e botter
  • 2 e roomkaas
  • ½ k melk
  • varsgemaalde sout en peper
  • 2 eiergele

Metode

  1. Verhit die olyfolie in ʼn pot oor matige hitte.
  2. Braai die beesvleis tot ligbruin. Verwyder die vleis en hou eenkant.
  3. Braai die ui, wortels en seldery vir 2 minute saam met die knoffelpoeier, koljander en komyn. Voeg die sampioene by, en braai weer vir 2 minute.
  4. Voeg die vleis by die groente en braai weer saam.
  5. Voeg die water en rooiwyn by en laat dit saam prut vir 10 minute sodat die sous effe kan afkook.
  6. Voeg die Worcestersous en basiliekruid by en laat weer vir 10 minute saam prut. Geur met varsgemaalde sout en peper.
  7. Voeg laastens die murgpampoentjies by en roer die room in. Verwyder die pot van die hitte. Plaas eenkant.
  8. Voorverhit die oond tot 180 °C.
  9. Om die kapokblomkool te maak, stoom die blomkool tot baie sag.
  10. Voeg die botter, roomkaas, melk, varsgemaalde sout en peper saam met die blomkool in ’n mengbak en gebruik ‘n handvoedselverwerker of fyndrukker om alles goed fyn te maak.
  11. Roer die eiergele ook by die kapokblomkool in.
  12. Skep die vleisvulsel in ’n oondbak, maar moenie te veel sous saam inskep nie. Skep die kapokblomkool daaroor.
  13. Plaas in die oond en bak vir 15-20 minute totdat die blomkoollaag ligbruin gebak het.
  14. Laat die pastei vir sowat 10 minute rus voordat jy dit aan jou medeherders bedien.

Bron: Armand kook kaal deur Armand Aucamp

Uitgewer: Lapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.