Soorte resepte:

[Resep] Die Staatmakers se Aanklam-skaappotjie

Foto: Voortrekkers Kook

Die Staatmakers se Aanklam-skaappotjie. Foto: Die Voortrekkers Kook

Elaine Horak vertel dat hulle by die 2015 Transvaal Staatmaker-saamtrek vir studente en jong werkendes ʼn potjiekos-kompetisie gehou het. Die Staatmakers het tydens die kompetisie op ʼn raaiselagtige manier die skaapskenkels verwar met hoenderdytjies en hoenderboudjies. Vreemd genoeg het die resep uitermatig goed gewerk met die hoender, hoewel die Staatmakers gedink het dit is ʼn skaappotjie. Die resep is genoeg vir 50 studente.

In die spens:

  • 2,5 kg uie, in ringe gesny
  • 80 ml fyngedrukte knoffel
  • 800 g margarien of botter
  • 10 kg skaapskenkels, of as jy ʼn Staatmaker is, 50 hoenderdytjies
  • en 50 hoenderboudjies of 10 kg ontbeende hoenderfilette
  • 1,5 liter sjerrie (Staatmakers, dit is vir die potjie!)
  • 500 ml gemmerbrandewyn (die res van die gemmerbrandewyn is ʼn goeie boereraat vir laataandkoue)
  • 80 ml grofgemaalde swartpeper
  • 85 ml Marina-braaisout met knoffel
  • 80 ml fyn koljander
  • 6,5 kg aartappels
  • 6,5 kg geelwortels, in 3 cm-stukke gesny
  • 2,5 kg wit knopiesampioene
  • 6,5 kg murgpampoentjies, in 3 cm-stukke gesny
  • 400 g beesstertsoppoeier vir die vleis of 400 g-sampioenroomsoppoeier vir die hoender
  • 1,5 liter room

Op die kole:

  1. Braai die uie en knoffel in die margarien/botter en voeg die vleis by.
  2. Braai 5 minute oor lae hitte.
  3. Meng die sjerrie, gemmerbrandewyn, grofgemaalde swartpeper, Marina-braaisout en fyn koljander. Voeg die mengsel by die vleis in die pot.
  4. Sit die deksel op en kook oor matige hitte tot die vleis begin sag raak.
  5. Voeg nou die groente by deur dit in lae op die vleis te pak – eers die heel sampioene, dan aartappels in kwarte, wortels en dan murgpampoentjies.
  6. Bedek weer en kook nog 30 minute oor matige hitte of tot groente net begin sag raak. (Groente moet nog ferm wees en nie pap nie!)
  7. Meng die room en soppoeier en gooi die mengsel bo-oor.
  8. Druk die agterkant van die houtlepel effens tussen vleis en groente in om die roommengsel te laat deurvloei. Moenie die groente stukkend druk of die bestanddele roer nie.
  9. Laat deurkook. Dien op met rys, stampmielies of koring.

Bron: Voortrekkers Kook
Uitgewer: Die Voortrekkers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.