Dit lyk na ʼn duur gereg om te berei, maar eintlik is dit nie. As jy Ius is om op ʼn Sondag iets lekkers vir jou mense te maak, kan jy gerus dié rol oorweeg. Onthou net om die droëvrugte die vorige aand in die lemoensap te plaas sodat dit oornag kan week. Hou in gedagte dat die rol taamlik ryk is wanneer jy bykos beplan om voor te sit. Die kookwater in die resep kan deur dieselfde hoeveelheid witwyn en beesaftreksel, om die helfte gemeng, vervang word.
Lewer 6-8 porsies
Bestanddele:
Vrugtevulsel
- 75 g (125 ml) droë appelkose, gekap
- 6 droë appelringe, gekap
- 250 ml versoete lemoensap
- 1 ui, fyngekap
- 25 g (30 ml) botter of margarien
- 75 g (125 ml) gaar rys
- 5 ml sout
- 2 ml koljander
- 2 ml gemmer
- 1 ml suurlemoenpeper
- gerasperde skil van 1 suurlemoen
Dunliesrol
- 1 stuk beesdunlies van sowat 30 x 20 cm
- 10 ml sout
- 2 ml peper
- sonneblomolie
- 300 ml kookwater
Metode:
- Week die gekapte appelkose en appelringe oornag in die lemoensap.
- Braai die volgende dag die ui in die botter of margarien tot sag. Voeg die geweekte vrugte, rys, sout, koljander, gemmer, suurlemoenpeper en suurlemoenskil by en meng.
- Vee die vleis met ʼn klam lap af en geur dit met die sout en peper. Smeer die vrugtevuIsel oor. Rol die vleis en vuIsel soos ʼn rolkoek op en bind die rol elke 5 cm styf met tou vas.
- Braai die rol aan weerskante in ʼn bietjie olie in ʼn swaarboomkastrol tot mooi bruin.
- Voeg die kookwater by, sit die deksel op en stowe die rol 1 uur lank of tot die vleis sag is. Voeg nog kookwater by indien nodig. Sit dit warm voor.
Bron: Huisgenoot Wenresepte 2
Uitgewer: Human & Rousseau